Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom stel ervare ekonoom tydelik as tesourier aan

Eskom het ’n nuwe tussentydse tesourier aangestel.

Eskom het hulp van die tesourie gekry.

Mandla Maleka vervang Andre Pillay, wat Vrydag sy laaste werkdag by Eskom gewerk het.

Pillay het middel Julie aangekondig hy bedank. Geen redes is vir sy bedanking aangevoer nie.

Pillay se bedanking het gekom kort nadat Phakamani Hadebe as Eskom se uitvoerende hoof bedank het, net 18 maande nadat pres. Cyril Ramaphosa hom aangestel het.

Hadebe, wat einde Julie sy laaste dag gewerk het, het met sy bedanking gesê: “Dit is geen geheim dat hierdie rol ondenkbare eise aan ’n mens stel nie en dit het ongelukkig ’n negatiewe invloed op my gesondheid. In die belang van Eskom en my gesin het ek daarom besluit om te bedank.”

Maleka is reeds sedert 1999 deel van Eskom se tesourie en voor dit was hy ’n direkteur in die nasionale tesourie se begrotingskantoor.

Hy is tans Eskom se hoofekonoom en hoof van portefeuljebestuur en valutahandel. Hy het ’n meestersgraad in die ekonomie aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Volgens Calib Cassim, Eskom se finansiële hoof, verseker Maleka se aanstelling kontinuïteit. “Ons is vol vertroue dat hy die fort suksesvol sal kan hou totdat ’n permanente tesourier aangekondig word.”

Die pos van tesourier by Eskom is ’n uiters belangrike een in die lig van Eskom se finansiële probleme. Die tesourier is verantwoordelik om kontantvloei te verseker, effekte uit te reik en lenings te verseker, en toesig te hou oor alle finansiële funksies, veral ten einde risiko’s te bestuur.

Intussen is Eskom ook besig met die proses om ’n nuwe uitvoerende hoof te vind. Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom se direksie, neem op die oomblik as uitvoerende hoof ook waar.

Onder die mense wat aansoek gedoen het vir die pos, tel Andy Calitz, ’n voormalige uitvoerende hoof van LNG Canada wat sy loopbaan as elektriese ingenieur by Eskom begin het, en Dan Marokane, vorige hoof van groepkapitaal by Eskom.

Meer oor:  Eskom  |  Mandla Maleka  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.