Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom stil-stil van afgrond met R5 mjd. gered

Die regering moes noodgedwonge begin April R5 miljard se noodfondse aan Eskom betaal sodat hy sy verpligtinge kon nakom en rekeninge kan betaal.

Netwerk24 het reeds so berig oor die inligting wat na vore gekom het in ’n verslag van Tito Mboweni, minister van finansies, wat Donderdag in die parlement ter tafel gelê is.

Lees: R17 mjd. in noodgeld reeds aan Eskom betaal

Die verslag toon Eskom het vroeg in April ’n reddingsboei van R17,6 miljard gekry om dringende uitgawes te dek.

Die eerste R5 miljard van dié bedrag is op 2 April aan Eskom betaal.

Die betaling op 2 April was skaars ’n week nadat Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, verklaar het die “dae van verrassings is nou verby”.

Eskom het skuld van meer as R420 miljard. Die departement van openbare ondernemings het al in Februarie in die parlement gewaarsku Eskom is tegnies bankrot en sal teen die huidige tempo teen April in duie stort as hy nie ’n reddingsboei kry nie.

Volgens Reuters val die R5 miljard binne die R23 miljard per jaar wat die regering reeds in die begroting van Februarie aan Eskom beloof het. Eskom gaan oor die volgende drie jaar elke jaar soveel kry.

Dit is maande vroeër as beplan, toon die verslag wat 16 April gedateer is en deur Mboweni onderteken is. Die regering het aanvanklik verwag die noodfondse sal tussen Augustus en Oktober vanjaar aan Eskom gegee word.

Eskom gaan nog geld benodig voor die einde van die maand.

Mboweni het die betaling gemagtig nadat Eskom einde Maart probleme ervaar het om finansiering in die mark te verkry.

“Om te voorkom dat Eskom nie sy verpligtinge kan nakom nie en ’n wanbetaling maak, het die minister van finansies op 2 April die betaling van R5 miljard gemagtig,” lui die verslag.

Bloomberg berig die regering was gedwing om die geld te betaal nadat ’n lening van die Ontwikkelingsbank van China nie betyds betaal is nie.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Elvira Wood

Die geld word aangewend om die oorbruggingsfinansiering van R3 miljard wat Eskom van Absa gekry het, terug te betaal.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die nuus in die parlement begrawe is, terwyl dit baie moeilik is om dit in die openbare domein te bekom, en dit is nie openlik aan Eskom se krediteure gekommunikeer nie,” sê Peter Attard Montalto, hoof van navorsing oor kapitaalmarkte van Intellidex.

“Eskom is baie nader aan die afgrond as wat die meeste beleggers besef. Gegewe die regeringswaarborg aan Eskom is dit nie ’n probleem so seer vir dié onderneming nie, maar vir die land se kredietgradering.”

Alf Lees, DA-parlementslid en DA-woordvoerder oor finansies, het ’n dringende vergadering van die parlement se staande komitee oor finansies tesame met die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings en die staande komitee oor toedelings aangevra om die geldkrisis by Eskom te bespreek.

Dit blyk Mboweni het soos Malusi Gigaba, een van sy voorgangers as minister van finansies, weer ’n klousule in die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies gebruik om die noodfondse regstreeks uit die staatskas na Eskom te kanaliseer.

Gigaba het einde 2017 ook dié klousule benut om noodfondse vir die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens te bekom sodat die lugdiens banklenings kan terugbetaal.

Mboweni het dus die klousule in die wet gebruik om noodfondse oor te dra sonder die normale uitgerekte goedkeuringsproses wat andersins nodig sou wees vir sulke toedelings.

Volgens Mboweni se verslag word noodfinansiering deur die wet beperk tot ’n maksimum van 2% van die “toegewysde nasionale begroting”.

Dit beteken net R17,7 miljard kan nou oorgedra word.

Die res van die geld sal deur die normale proses vir die bewilliging van geld van die staat af buite die normale begroting gaan wanneer die parlement ná die verkiesing van 8 Mei saamgestel is.

Lees meen dit dui aan hoe groot die kontantkrisis by Eskom is, want sonder die 2%-beperking sou die bedrag wat uit die staatskas geneem is veel groter gewees het.

Die R23 miljard is nie betyds in die parlement goedgekeur nie.

Mboweni sê in sy verslag dat Eskom in sy huidige vorm nie finansieel volhoubaar is nie.

Volgens hom verwag Eskom dat hy nie in staat gaan wees om self genoeg kontant te skep om sy verpligtinge oor die komende vyf jaar na te kom nie.

Hy sê selfs nadat Eskom finansiering in die mark gekry het, is sy kontantvloei nie genoeg vir sy kapitaalbestedingsprogram nie.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se woordvoerder, Adrian Lackay, het gesê die ministerie is vol vertroue dat die Ontwikkelingsbank van China sy verpligting gaan nakom om Eskom te kapitaliseer.

Die nasionale energiereguleerder het in Maart ’n tariefverhoging van byna 14% aan Eskom toegestaan, terwyl Eskom vir bykans 20% gevra het.

Die geldkrisis kom te midde van bedryfsprobleme by Eskom weens onder meer agterstallige instandhouding wat vanjaar tot hernieude beurtkrag gelei het.

In ’n sameloop van omstandighede moes Eskom in Maart in ’n stadium selfs fase 4-beurtkrag instel toe die sikloon Idai Mosambiek getref en kragverskaffing van die Cahora Bassa-hidrokragstasie onderbreek het.

Eskom is intussen boonop gewikkel in ’n omvattende herstrukturering nadat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede aangekondig het Eskom moet verdeel word in drie afsonderlike staatsentiteite, naamlik ’n kragopwekkingsmaatskappy, ’n onafhanklike transmissienetwerk en ’n verspreidingsmaatskappy.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, het ook vandeesweek aan personeellede gesê Eskom sal sy arbeidsmag moet verklein, maar sal probeer om dit deur natuurlike vermindering en moontlik vrywillige skeidingspakkette en vroeë aftreepakkette te doen.

Meer oor:  Eskom  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.