Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom stoei met ouditeure oor die EPVF
Eskom se Medupi-steenkoolkragstasie in Mpumalanga Foto: Getty Images

Eskom is haaks met sy ouditeure oor die wyse waarop hy oor die Eskom Pensioen-en-Voorsorgfonds (EPVF) verslagdoen.

Die ouditeure, SNG Grant Thornton, het in hul ouditverslag vir 2019-’20 spesiaal die aandag daarop gevestig dat die EPVF ’n vastevoordeelfonds is, terwyl Eskom dit in sy finansiële state as ’n vastebydraefonds hanteer. Volgens die ouditeure is dit ’n “sleutelkwessie” in die oudit.

Die onderskeid is belangrik omdat ’n vastevoordeelfonds gewoonlik hoër risiko vir die werkgewer inhou. Die voordele wat die werknemers ontvang is gewaarborg en die werkgewer is gewoonlik verantwoordelik daarvoor om enige tekorte in die fonds aan te vul sodat die werknemer die pensioen kry wat hom toekom.

Dít sou beteken Eskom moet finansieel voorsiening maak daarvoor en dit kan ’n remskoen aan sy balansstaat wees.

In die geval van vastebydraefondse is die risiko vir die werkgewer baie kleiner en het hy geen verpligting as die fonds ’n tekort toon nie. Die lede van die pensioenfonds dra die risiko as die fonds se beleggings swak vaar en ’n tekort ontstaan.

In sy jaarverslag wys Eskom daarop dat die fonds se reëls bepaal wanneer ’n tekort ontstaan, kan die direksie besluit om voordele te verminder of, mits Eskom toestem, bydraes te verhoog.

Martin Buys, hoofbestuurder vir finansiële en bestuursverslagdoening by Eskom, sê dieselfde ouditeure doen al ses jaar lank Eskom se boeke en het nooit voorheen beswaar gemaak teen dié manier van doen nie.

SNG Grant Thornton het nie op navrae daaroor reageer nie.

Volgens Buys het Eskom ’n regsmening verkry wat sy manier van doen steun. Verder maak die ouditstandaarde volgens Buys daarvoor voorsiening dat ’n entiteit ’n vastevoordeelfonds as ’n vastebydraefonds in sy finansiële sake kan hanteer as hy nie verplig is om tekorte aan te vul nie.

Eskom het ook geen aanspraak op enige surplus in die fonds nie.

Buys sê die EPVF is ’n vastevoordeelfonds, maar “gedra hom nie soos ’n vastevoordeelfonds nie”. Hy sê Eskom het met die ouditeure ooreengekom dat hy vir eers deursigtiger sal wees oor die kwessie, maar dit moet nou dringend “ontlont” word om te verhoed dat dit weer ’n vlek op Eskom se ouditverslag is.

Die EPVF kyk tans daarna, sê Buys. Een opsie is om die fonds in ’n vastebydraefonds te omskep.

Rapport verstaan die EPVF het sy eie regsmening gekry, maar die fonds het teen druktyd nie Rapport se vrae oor die kwessie geantwoord nie.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) wat toesig het oor die EPVF, sê hoewel die werkgewer gewoonlik aanspreeklik is om tekorte by vastevoordeelfondse aan te vul, is dit nie altyd die geval nie.

Volgens die kommissaris van die FSCA, Olano Makhubela, kan die risiko op verskillende maniere versprei word. Hy sê daar is niks fout met die reël wat bepaal dat voordele verminder of bydraes verhoog kan word, sou ’n tekort ontstaan nie.

Dit is belangrik dat hier gepraat word van toekomstige voordele en die werkgewer mag ook van tyd tot tyd spesiale bydraes tot die fonds maak. Die fonds se reëls maak verder voorsiening vir verskeie reserwerekeninge wat ’n buffer bied as daar tekorte is, sê hy.

Adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus en kampvegter vir die Transnet-pensioenarisse, het gesê dit is belangrik dat pensioenfondse deursigtig moet wees sodat lede kan sien of die reëls nagekom word en tekorte nie ontstaan nie.

Hy sê as iemand afgetree het by ’n vastevoordeel­fonds mag sy voordele nie ver­minder word nie. As die formule vir die uitbetalings verander, kan dit egter diegene wat nog in diens is en later gaan aftree, benadeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.