Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom stuur ’n S.O.S. aan sakelui

Die regering gaan dringend ’n proses begin om nuwe krag aan te koop, maar ook om oplossings van die private sektor te vra.

Gelukkiger dae: ’n beurtkraglose Johannesburg. Foto: Waldo Swiegers, Bloomberg

Gwede Mantashe, minister van energie, het dié aankondiging Vrydag gedoen vanuit ’n Pretoriase regeringsgebou wat nie deur beurtkrag geraak is nie.

Hy het ook die langverwagte geïntegreerde hulpbronplan (IRP) bekend gestel.

Dié versoeke-om-voorstelle-proses werk soos enige ander tenderproses. Rolspelers kan enige oplossing voorstel aan die vraag- of aanbodkant.

Die oplossings kan bykomende kragopwekking soos die huur van drywende kragsentrales op skepe in hawens wees, of van maatskappye wat byvoorbeeld instem om hul kragverbruik te beperk.

Mantashe het terselfdertyd aangekondig dat wetlike beperkings op kragopwekking vir eie gebruik opgehef gaan word. Dit baan die weg vir myne, fabrieke en ander groot verbruikers om hul eie krag op te wek.

Die regering se noodroep vir oplossings kom ná Eskom se flentervloot-kragsentrales hom so in die steek gelaat het dat fase 2-beurtkrag Woensdag en Donderdag landwyd ingestel is.

Mantashe wou hom Vrydag nie verbind tot die hoeveelheid opwekkingsvermoë wat nou dringend aangekoop gaan word nie.

In die energieplan wat Woensdag deur die kabinet goedgekeur is, word egter verwys na ’n korttermyntekort van 2 000 MW.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie. Foto: Jabu Kumalo

Mantashe het gesê die regering het geen voorkeur vir spesifieke tegnologie nie.

Volgens die IRP sal die land se totale opwekkingsvermoë teen 2030 vermeerder van die huidige sowat 52 000 MW tot meer as 78 000 MW. Teen daardie tyd sal sowat 59% van die land se krag steeds uit steenkool opgewek word, met windkrag wat ’n vergrote bydrae van byna 18% sal lewer. Ander prominente bydraers is hidro-elektriese skemas (8,4%), fotovoltaïese sonkrag (6,3%) en kernkrag (4,5%).

Daar word nie voorsiening gemaak vir enige nuwe gekonsentreerde sonkrag nie. Die tegnologie is duur en die huidige 600 MW sal steeds teen 2030 sowat 0,6% tot die land se kragopwekking bydra.

Gas

Die regering maak voorsiening vir 3 000 MW se nuwe kragopwekking uit gas wat danksy die buigsaamheid van die tegnologie die ideale pasmaat is vir wisselvallige hernubare energie. Die eerste spilpunt vir gasinvoer is die Coega-nywerheidsontwikkelingsone in die Oos-Kaap.

Mantashe sê as Suid-Afrika plaaslik gasbronne kan ontwikkel, sal dit alles verander. Total se Brulpadda-gasveld, skaliegas in die Karoo en gasbronne by Ermelo in Mpumalanga en Welkom in die Vrystaat is van die moontlikhede wat hy genoem het.

Batterye

Sowat 1,2% van die land se kragverbruik sal van batterye kom. Rapport het onlangs berig dat Eskom onder druk is om ’n batterybergingsprojek van 360 MW te begin as een van die voorwaardes vir sy lening van die Wêreldbank om Medupi te bou.

Die IRP maak voorsiening vir 2 088 MW se bykomende bergingsvermoë om die totaal teen 2030 op 5 000 MW te staan te bring.

Kernkrag

Hoewel Mantashe klem gelê het op die waarde van kernkrag vir bestendige kraglewering, het hy bygevoeg dat die dae van mega-kernkragsentrales tot die verlede behoort.

kerrn
Die son sak agter die Koeberg-kragsentrale naby Kaapstad.

As die regering nuwe kernkrag koop, sal dit waarskynlik kleiner, modulêre reaktors wees.

Tot 2030 is daar geen voorsiening vir nuwe kernkragprojekte nie, maar Koeberg se lewe gaan met 20 jaar verleng word, tot 2044.

Dit is volgens dr. Kelvin Kemm, bestuurshoof van Nuclear Africa, nie ’n duur en tegnies komplekse proses nie, maar “hoofsaaklik ’n klomp papierwerk”.

Reaksie

Die IRP is algemeen verwelkom.

Wayne Glossop, sake-ontwikkelaar van die internasionale kragreus Wärtzilä, sê die beplande rol van gasopwekking is verminder van vroeëre konsepplanne, maar dis verstaanbaar omdat die land nie sy eie gasbronne het nie.

Hy sê voorbereiding moet nou dringend begin om die eerste 1 000 MW in 2025 in bedryf te stel. Om ’n gas-na-elektrisiteitaanleg te bou neem omtrent twee jaar, maar dit sluit nie die tydperk van nog minstens twee jaar in om omgewings- en ander goedkeuring te kry nie.

Die Suid-Afrikaanse windenergievereniging (Sawea) het die klemverskuiwing na skoner kragopwekking en veral windkrag verwelkom. Ntombifuthi Ntuli, bestuurshoof, sê die regering het geluister na onafhanklike kragop­wek­kers wat benadruk het dat ’n bestendige aankopeprogram nou nodig is vir beleggersvertroue.

Terence Govender, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Hernubare Energie (Sarec), het ook die vergrote rol van hernubare energie in die land se toekoms verwelkom.

Govender het ’n beroep op die regering gedoen om dringend projekte in die departement van energie se vyfde ronde van hernubare energie-aankope toe te ken om die huidige tekort aan te pak.

k
Meer oor:  Eskom  |  Steenkool  |  Beurtkrag  |  Kernkrag  |  Irp2019  |  Krag  |  Groenkrag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.