Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom sukkel só, fase 6 aan die kom, maan kenners

Selfs te midde van die afswaai in ekonomiese aktiwiteite en die streng inperkings wat tot ’n kleiner vraag na elektrisiteit lei, verwag Eskom in die komende drie maande weekliks ’n kragtekort.

Eskom het Sondag die slegte nuus aangekondig dat die fase 2-beurtkrag wat van Donderdag af geduur het, Maandagoggend weer om 05:00 begin, en het geen aanduiding gegee van wanneer dit verby kan wees nie.

Ted Blom, ’n energiekenner, sê as die scenariobeplanning van Eskom oor beurtkrag vir die komende drie maande ’n werklikheid word, gaan dit die ergste in die kragmaatskappy se geskiedenis wees.

Eskom doen drie maande vooruit scenariobeplanning om te bepaal wat die waarskynlike kragtekort gaan wees.

Die scenarioverslag vir die komende drie maande wat verlede week uitgereik is, lê links en toon die 14 weke tot middel April vanjaar is die waarskynlikste scenario die ergste. Daarnaas wys dit die scenario was in 2020 heelwat gunstiger.

Dit toon nou 14 weke van die ergste waarskynlike scenario; baie erger as die afgelope twee jaar dieselfde tyd.

En Blom meen dié vooruitskatting, wat daarop dui dat beurtkrag weekliks kan plaasvind, is waarskynlik konserwatief.

Die scenario-verslag toon die waarskynlikste scenario is dat 16 200 MW op enige gegewe stadium uit die kragstelsel kan wees.

“Enigiets bo 11 000 MW is gewaarborgde beurtkrag, en jy kan dié scenario tot einde van die winter verwag. Ek verwag ons gaan tussen nou en die einde van die winter weer fase 6 sien, en die kans is goed dat ons vir die eerste keer fase 8 gaan sien.”

Volgens hom verwag hy dié ernstige situasie omdat Koeberg tans opgeknap word. “Dit is opknappingswerk wat nog nooit in Suid-Afrika gedoen is nie. Hulle gaan die kragstasie oopmaak en dinge vind wat hulle nie verwag het nie.”

Ons kragstasies is stokoud – gemiddeld 40 jaar – en hulle is flenters.

Blom beweer ook Eskom mislei die publiek oor die erns van die situasie en dat daar in sekere stede nie net fase 2-beurtkrag is nie, maar “fase 4 plus”.

“Eskom het nie genoeg krag om die Covid-19-ingeperkte ekonomie tans te bedien nie en hul opsies het opgeraak – met diesel en water.

“Maatskappye gaan hul deure sluit en desinvesteer – want hoe bedryf jy ’n smelter sonder krag, of selfs ’n bakkery?”

Die skrywer en voormalige finansiële joernalis James-Brent Styan, sê hy het in sy 2015-boek Blackout: The Eskom Crisis hierdie situasie voorspel.

“Ons kragstasies is stokoud – gemiddeld 40 jaar – en hulle is flenters.”

Eskom het jare gelede gesê die antwoord vir die kragprobleme is om nuwe steenkoolkragstasies te bou – maar 14 jaar later is dié kragstasies, Medupi en Kusile, steeds nie voltooi nie.

s dit nie was vir die pandemie nie, was ons in fase 6 of 7.

Eskom se ander enorme krisis is dat hy eenvoudig nie geld het nie. Hy sit met ’n skuldlas van meer as R450 miljard.

“Die realiteit is, dinge is nie goed nie en die grootste rede is omdat Eskom nie geld het nie,” sê Styan.

“As jy nie geld het nie, kan jy nie die enjin vervang nie. Daar is nie geld vir instandhouding nie. Dis soos ’n stokou huis se bedrading wat nooit opgeknap is nie, en nou het jy ’n klomp toestelle in jou huis en die krag trip die heeltyd.”

Styan voorspel beurtkrag tot 2030.

Eskom het in ’n stadium 45 000 MW se geïnstalleerde kapasiteit gehad, en nou is dit 40 000.

Hy sê 33% van die kragstasies is so stukkend daar nie op hulle staatgemaak kan word om krag te lewer nie.

“As dit nie was vir die pandemie nie, was ons in fase 6 of 7.”

Styan meen die vraag na krag is tans baie laag – 26 000 tot 28 000 MW, vergeleke met 2007 en 2008 toe dit rondom 32 000 MW was.

“Dit is al ’n hele kragstasie se vermoë wat ons minder gebruik, maar nog steeds is daar beurtkrag. Dis ’n nagmerrie-situasie.”

Hy sê onbeplande kragonderbrekings raak al hoe meer en al hoe groter namate die kragstasies al hoe ouer word.

Eskom beplan vir ’n moontlike kragtekort van gemiddeld 14 200 MW op enige gegewe tydstip in die komende drie maande.

Verlede jaar dieselfde tyd was dit 11 700 MW en die vorige jaar 10 700 MW.

Die waarskynlike scenario is egter dat dit 16 200 MW kan wees.

Dit was verlede jaar 13 700 MW gemiddeld oor die driemaandetydperk en 12 700 MW in 2019.

Ook Styan glo fase 6-beurtkrag is ’n realiteit.

“Sedert fase 6 vir die eerste keer in Desember 2019 ingestel is, het niks verander aan Eskom se situasie nie. Hy is trouens nog net so bankrot, of self meer bankrot.

“Die probleem is, dit is so onvoorspelbaar; dit is soos sewe kragproppe wat in een muurprop ingedruk is; dit kan enige tyd trip en dan spring mens oor na fase 3 of hoër,” sê Styan.

“Die infrastruktuur is gemiddeld 40 jaar oud, en sommige 60 jaar. Dit is stokou kragstasies wat tot in die grond ingery is om te probeer om beurtkrag te voorkom.

“Dis soos ’n 1960-Toyota wat jy heeltyd teen 130 km ry en jy vervang nie sy olie of kleppe nie.”

Styan sê dit is wat in die era van Brian Molefe aan die stuur van Eskom gebeur het. “Ons betaal nou die prys daarvoor.”

Drie van die oudste kragstasies is reeds toegemaak.

Hy vra watter buitelandse belegger sal in ’n land wil kom belê wat hom nie 24 uur per dag elektrisiteit kan waarborg nie.

Meer oor:  Eskom  |  Brian Molefe  |  James-Brent Styan  |  Fase 6  |  Energie  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.