Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Eskom-tariewe sal die bedryf laat ondergaan’

Die elektrisiteitsbedryf is hul swakste verskaffer, sê meer as 40 lede van die Casting, Forging and Machining Cluster of South Africa (CFMC).

Nersa sal sy besluit oor die aansoek op 24 Maart aankondig, wat beteken dit sal te laat wees om enige bykomende bedrae wat toegeken word vanjaar nog by kragtariewe te voeg.

Dís te wyte aan onbekostigbare stygings in tariewe, onbetroubare kragverskaffing en ’n gebrek aan duidelikheid oor toekomstige tariewe.

’n Verdere tariefverhoging om Eskom nog R27 miljard vir uitgawes in 2018-’19 te gee sal die ondergang van sowel die kragverskaffer as die nywerhede verder versnel, het verteenwoordigers van die CFMC Vrydag op ’n openbare sitting van die energiereguleerder Nersa gesê.

Dié sitting in Pretoria was die tweede laaste van ’n reeks landwyd om te hoor wat Suid-Afrikaners sê oor Eskom se aansoek wat betref die aansuiweringsmeganisme vir die vasstelling van kragtariewe.

Dié meganisme is daarop gemik om tariewe terugwerkend aan te pas om te vergoed vir afwykings in Eskom se verwagte inkomste omdat die aannames waarop die tariewe aanvanklik gegrond was, nie verwesenlik is nie. Dit sluit faktore soos steenkoolkoste, die inflasiekoers en verkoopsvolumes in.

Nersa het vroeër aangedui hy sal sy besluit oor die aansoek op 24 Maart aankondig, wat beteken dit sal te laat wees om enige bykomende bedrae wat toegeken word vanjaar nog by kragtariewe te voeg.

Die CMFC, wat gesamentlik werk aan meer as 9 000 mense gee, stel dit duidelik in ’n poging om die verdere aftakeling van die vervaardigingsbedryf te keer, verwerp hy Eskom se aansoek. In 2019 alleen, sê die groep, het die sluiting van twee groot gieterye tot die verlies van 370 direkte poste gelei.

“Werksgeleenthede in Suid-Afrika word verplaas na China namate ingevoerde produkte die plaaslike mark oorstroom.”

Volgens die CMFC doen die elektrisiteitsbedryf “al hoe minder met al hoe meer” en is die jongste Eskom-aansoek bloot ’n simptoom van die “rampspoedige stand” van dié bedryf.

Dít word gekenmerk deur hofgevegte tussen Eskom en Nersa, korrupsie, wanbestuur en staatskaping, die ondermyning van Eskom deur wanfunksionele munisipaliteite met wanbetaling van hul grootmaataankope, die hemelhoë koste wat Eskom moet dra vir aankope van onafhanklike kragverskaffers en vakbonde se weerstand teen hervorming en vooruitgang.

Die groep prys Nersa vir sy besluite die afgelope paar jaar om Eskom se tariefverhogings te beperk en vra dat die reguleerder dit ook in dié geval doen. Volgens die CMFC moet kragtariewe die koste van Eskom se bedrywighede weerspieël, maar nie van sy vermorsing nie. As Eskom se aansoek slaag, sal dit in werklikheid beteken verbruikers moet vir die kragverskaffer se ondoeltreffendhede opdok.

Dít sluit Eskom se onvermoë in om sy nuwe kragsentrales, Medupi en Kusile, suksesvol in bedryf te stel.

Die groep voer aan die kapitaalbesteding van R576 miljard wat Eskom sedert 2009 aangegaan het, was hoofsaaklik vir dié twee projekte, maar nou wek hy minder krag op as in 2009. Volgens die beplanning moes Medupi en Kusile reeds in 2015 die vermoë gehad het om 9 564 MW op te wek, maar vyf jaar later staan dit op 3 181 MW en sedert Augustus 2017 is geen nuwe eenhede in bedryf gestel nie.

Die finansiële las van dié debakel het in 2017-’18 reeds R57 miljard beloop en veroorsaak dat Suid-Afrikaners gekonfronteer word met beurtkrag, beperkte kragverskaffing aan nywerhede, die soeke na alternatiewe en die feit dat Eskom nie ekstra krag het om te bemark ten einde verkope te verbeter nie.

Daarbenewens moet Eskom staat maak op ou, duur kragsentrales en noodbronne soos sy dieselturbines en is daar weinig ruimte om sy bedrywighede te optimaliseer, sê die CMFC. In 2018-’19 het Eskom 7,1% minder krag verkoop as in 2012. Daar kan nie van verbruikers verwag word om pa te staan vir die feit dat Eskom se beperkte opwekkingsvermoë sy verkope beperk nie, sê die groep.

Onafhanklike kragverskaffers verteenwoordig net 5,2% van die opwekkingsvermoë, maar 25% van Eskom se koste. “Daar word van die verbruiker verwag om te betaal vir irrasionele besluite oor onafhanklike kragverskaffers deur Nersa en die departement van energie.”

Die CMFC skaar hom by ander wat vra dat die hoë tariewe in die eerste drie aankooprondes vir hernubare energie waaraan Eskom gebonde is, heronderhandel word.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Vervaardigers  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.