Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom-tariewe: Só kan dit verander

Sommige Eskom-kliënte gaan dalk eersdaags meer vir elektrisiteit betaal en ander weer minder. Dis nou as Eskom sy sin kry met ’n omvattende aanpassing aan die struktuur van sy tariewe.

Huiseienaars kan nou sonkrag aanskaf en die koste by hul bestaande huisverband voeg. Foto: Unsplash

Van die veranderinge waaroor Eskom se regstreekse kleinhandelkliënte wel sal juig, is dat Eskom wil wegdoen met stygende bloktariewe vir residensiële kragverbruikers. Dis waar jy al hoe meer per eenheid betaal hoe meer krag jy gebruik.

Volgens terugvoering van kliënte is die stygende bloktariewe baie ongewild. Dit maak dit moeilik vir verbruikers om te begroot, en is verwarrend, het Shirley Salvoldi, korporatiewe spesialis in kleinhandelpryse by Eskom, Dinsdag Eskom se voorgestelde kleinhandeltariefplan op ’n openbare sitting van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) verduidelik.

Salvoldi beklemtoon Eskom se hersiening van al dié tariewe word gedoen binne die raamwerk van sy toegelate en goedgekeurde inkomste van Nersa vir die lopende tariefjaar. Dis dus nie ’n poging om meer geld uit kragverbruikers te kry nie, maar om die tariewe te moderniseer, vereenvoudig en aan te pas by nuwe realiteite en werklike dienskoste.

Eskom wil ook onbedoelde kruissubsidiëring uitskakel waar wisselende koste onwetend deur vaste koste gedek word.

Nog ’n groot verandering is by tydgebruik-tariewe – waar dit duurder is om byvoorbeeld oor die tye van spitsvraag in die winter krag te gebruik. Dié tariefstelsel is laas in 2005 verander en weerspieël nie meer die huidige kragstelsel nie, verduidelik Salvoldi.

Dit is veral veroorsaak deur die al hoe groter gebruik van sonkrag, wat ’n afname in vraag na Eskom-krag op sekere tye van die dag skep.

Dit maak dit ook moeilik vir die stelseloperateurs om die aandspitstye te bestuur, meen Salvoldi.

Waar daar voorheen ’n matige toename in kragvraag was wanneer dit begin aand word, is daar deesdae ’n afname in kragvraag in die middel van die dag weens al die sonkrag wat eerder gebruik word, maar dan styg die kragvraag baie skerp na die aand se kant namate die son sak en sonkragstelsels nie meer krag lewer nie.

Wat Eskom voorstel, is dat die spitstyd in die aand waarin krag duurder is van die huidige twee uur na drie uur verleng word, maar die spitstydure soggens dienooreenkomstig verkort word van drie na twee uur.

Kliënte het erg gekla oor die skerp toename in tariewe in winterspitstye, en volgens Salvoldi stel Eskom voor om sy pryse vir krag in winterspitstye te verlaag, maar dié in somerspitstye te verhoog.

Eskom wil verder die 20 verskillende tariewe vir munisipaliteite vereenvoudig en konsolideer tot net drie tariewe.

Salvoldi sê die oefening om sy tariewe te hersien gaan oor koste-toewysing, en is grootliks ’n wiskundige oefening om koste te verdeel tussen:

  • Eskom se kragopwekkingskoste en dié van die onafhanklike kragprodusente wat aan hom krag verkoop.
  • Eskom se transmissienetwerk se dienskoste; en
  • Die verspreidingsnetwerk se dienskoste en kragmeterkoste.

Sy verduidelik tariewe is die produk van leweringskoste gedeel deur kragvolume. As die koste dieselfde bly maar daar word minder krag verkoop, beteken dit tariewe moet styg om steeds dieselfde totale goedgekeurde inkomste in te vorder.

  

Hoe alternatiewe energie kragtariewe raak

Met al hoe meer huishoudings en sakeondernemings wat sonkrag gebruik, word die kragnetwerk anders as voorheen gebruik.

Mense wat hul Eskom-krag met eie krag aanvul, het steeds die kragnetwerk vir stabiliteit en rugsteun nodig.

Maar tariewe wat sowel vaste en wisselende koste bloot deur ’n kragvolume-verwante tarief verhaal, byvoorbeeld R2 per kWh, weerspieël nie die veranderde omgewing nie. Net R1 per kWh van die R2 per kWh is die energiekoste, terwyl die ander R1 die vaste koste is.

Eskom wil dus die R2 verdeel in ’n vaste daaglikse netwerktarief en ’n energietarief gegrond op hoeveel krag gebruik word.

Dit bring nie meer geld in nie, maar verdeel die koste.

Dit verwyder kunsmatige subsidies, is meer deursigtig, stuur die korrekte ekonomiese sein uit, en sorg vir meer akkurate terugbetalingstydperk deur die kragmaatskappy se energiekoste te vergelyk met die alternatiewe kragbron se energiekoste.

  

Veranderinge in kort

  • Stygende bloktariewe vir huishoudings word mee weggedoen.
  • Tariewe aan munisipaliteite word van 20 na drie vereenvoudig.
  • Tydgebruik-tariewe in winter word verlaag, en dié in die somer word verhoog.
  • Spitstye saans word verleng, en dié soggens word verkort.
  • Die gewig van vaste verspreidingskoste word verhoog, met die ooreenkomstige verlaging van wisselende koste in alle tariewe wat ’n netwerk-komponent in die prys het.
  • Diensgeld sal gehef word volgens die aantal leweringspunte, en nie volgens die aantal rekeninge nie.

Die voorstelle moet nou deur Nersa oorweeg word.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Krag  |  Groenkrag  |  Ipp's  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.