Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom 'te belangrik' om te misluk, sê OBK
Phakamani Hadebe, waarnemende hoof van Eskom.

Eskom is te belangrik vir die Suid-Afrikaanse ekonomie om te misluk, en daarom het die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ingestem om vir Februarie R5 miljard aan Eskom te leen.

Dit blyk Eskom moet rente van 7,65%, oftewel 0,75 persentasiepunt meer as die Johannesburg Interbank Ooreengekome Koers (Jibar) vir een maand, op die lening betaal. Dit blyk uit dokumentasie waarin Netwerk24 insae gekry het.

Phakamani Hadebe, waarnemende hoof van Eskom, het op 24 Januarie, net enkele dae nadat hy aangestel is, die OBK genader oor die lening weens Eskom se kontantvloeiprobleem.

Vir die OBK het die hoër rentekoers wat hy op die lening kon verdien die deurslag gegee dat hy ingestem het om dit aan Eskom toe te staan. Die opbrengs is bo die maatstafopbrengs waarna die pensioenfonds in geldmarkbeleggings mik. Die Jibar is die amptelike geldmarkkoers en teen einde Januarie was dit een maand op 6,9%.

Dr. Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, het aan Yunus Carrim, voorsitter van die parlement se staande komitee oor finansies, geskryf die lening het voldoen aan die staatspensioenfonds se beleggingsmandaat, want dit word ten volle deur ’n staatswaarborg gedek.

Volgens Matjila sou Eskom se status as lopende saak in die gedrang kom as hy nie die oorbruggingslening van die OBK kry nie. Dit sou daartoe kon lei dat Eskom se finansiers hulle op die staatswaarborg beroep om hul geld terug te kry, wat ook ander staatsentiteite met staatsgewaarborgde skuld sou raak.

Alf Lees, DA-woordvoerder oor finansies.

Die domino-effek hiervan sou tot ’n verdere kredietafgradering van Suid-Afrika lei, asook tot ’n swakkere rand wat brandstofpryse sou opjaag te midde van oliepryse wat reeds op $60 per vat is.

Oor vakbonde wat ontevrede is omdat die OBK en staatspensioenfonds hulle nie vooraf geraadpleeg het nie, het Matjila geskryf die OBK is regstreeks teenoor die fonds aanspreeklik vir sy beleggingsmandaat en onder geen verpligting om enige vakbond te raadpleeg of in te lig nie. Dit sou bloot uit hoflikheid wees om hulle in te lig.

Alf Lees, DA-woordvoerder oor finansies, meen die OBK se regverdiging van die lening wys dit het niks te doen met die beste beleggingsbesluit vir staatsdienswerkers se aftreegeld nie, maar dit gaan meer daaroor om Eskom en Suid-Afrika van ’n verleentheid te red.

Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA) het sy teleurstelling uitgespreek dat Malusi Gigaba, minister van finansies, die vergadering met die staatsdiensvakbond wat vir Maandag beplan was, tot 2 Maart toe uitgestel het.

Ivan Fredericks, hoofsekretaris van die PSA.Foto: SON

Die PSA wou met Gigaba praat oor die belegging van staatswerkers se aftreegeld, en spesifiek die lening van R5 miljard van die OBK aan Eskom.

Gigaba is besig met die finale besonderhede van sy begrotingsrede wat volgende week gelewer word, maar die PSA kla die minister se uitstel wys dat die pensioenbelange van staatsdienswerkers “nie ’n voorkeursaak vir hom is nie”.

Ivan Fredericks, hoofbestuurder van die PSA, sê hulle skryf al sedert September verlede jaar gereeld aan Gigaba om ’n versekering te kry dat staatswerkers se aftreegeld nie gebruik sal word om sukkelende staatsondernemings te red nie.

Gigaba het volgens Fredericks aanvanklik aangedui sy kantoor sal vroeg in Januarie met vakbonde vergader, maar dié vergadering het nooit plaasgevind nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.