Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom ‘te groot om te misluk’ - Wêreldbank

Eskom is te groot om te misluk. Die Suid-Afrikaanse ekonomie sal swaar trek as die nutsmaatskappy, wat ’n groot kontantvloeikrisis het, finansieel in duie stort, sê die Wêreldbank.

load shedding
Eskom het R420 miljard se skuld en kredietgradeerders beskou die nutsmaatskappy as een van die risiko’s vir die land se kredietgradering. Maar vou kan dié staatsonderneming nie, meen die Wêreldbank.

Paul Noumba Um, die Wêreldbank se direkteur vir Suid-Afrika, het Dinsdag in Johannesburg gesê: “Dis net te groot om toe te laat dat dit disintegreer, en om al die stukkies reg te maak, sal duurder wees om dit te probeer hervorm.”

Hy het die 12de verslag oor die plaaslike ekonomie bekend gestel.

Noumba Um sê dis opmerklik dat die regering Eskom probeer hervorm, en meer sal waarskynlik ná die algemene verkiesing in Mei gedoen word.

Eskom het R420 miljard se skuld en kredietgradeerders beskou die nutsmaatskappy as een van die risiko’s vir die land se kredietgradering.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Desember, toe beurtkrag weer ingestel moes word, ’n taakspan van energiekenners en akademici aangewys om ’n regrukplan vir Eskom op te stel. Die voorlopige verslag moet einde Januarie voorgelê word.

Eskom het sy topbestuur begin herstruktureer, maar afleggings op laer posvlakke sal verbete deur vakbonde teengestaan word.

Die Wêreldbank se studie van 2016 het bevind Eskom het waarskynlik 66% te veel personeel vergeleke met sy eweknieë in ander lande.

Eskom het sy topbestuur begin herstruktureer, maar afleggings op laer posvlakke sal verbete deur vakbonde teengestaan word.

Noumba Um sê die drie eenhede van Eskom – opwekking, transmissie en verspreiding – moet hersien word.

In 2018 het Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, daarop gesinspeel dat die drie eenhede geskei kan word en private beleggers betrek kan word.

Noumba Um sê om Eskom se probleme op te los, moet ook gekyk word na die munisipaliteite wat geld aan die kragreus skuld.

Die Wêreldbank voorspel ekonomiese groei van slegs 1,3% vir Suid-Afrika in 2019.

Dis skaars ’n derde van die groei van 4,3% van ontluikende lande se bruto binnelandse produk (BBP) as geheel en ook heelwat minder as die gemiddeld van 3,7% vir Afrika suid van die Sahara.

Die skuld van staatsondernemings wat betaalbaar word en waarvoor die staatskas dalk sal moet opdok, kan Suid-Afrika se skuld-tot-BBP-koers met nog 2 persentasiepunte verhoog. Dit gaan na verwagting reeds tot 55,8% styg in die lopende boekjaar. – Fin24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.