Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: ‘Totale ineenstorting’ van netwerk dreig

Die hele land se ligte gaan dalk afgeskakel word – en dié keer nie weens ’n tekort aan opwekkingsvermoë nie.

“Amper die hele Suid-Afrika kan in donkerte verval en tot stilstand kom, wat potensieel die lewe, persoonlike veiligheid of gesondheid van die hele of gedeeltes van die bevolking sal bedreig.”

So stippel Eskom die situasie uit in hofstukke wat verlede week in die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is.

Die saak draai om noodsaaklike IT-dienste wat verskaf word deur ’n multinasionale Amerikaanse IT-maatskappy, Oracle, wat nou dreig om sy dienste op te skort weens ’n twis oor betaling.

Eskom het ’n dringende hofaansoek gebring, maar die hof het dit van die hand gewys. Die nutsmaatskappy gaan aansoek doen om verlof tot appèl – maar intussen kan Oracle enige oomblik sy dienste aan Eskom onttrek, wat die kragnetwerk in duie kan laat stort.

Oracle beweer Eskom het sy dienste en produkte “oorbenut” en skuld hom miljarde rande meer as wat ooreengekom is in ’n vyfjaar-meesterooreenkoms wat in 2017 onderteken is.

Eskom betwis dié posisie. Hy sê hy het hoegenaamd nie Oracle se produkte en dienste oorbenut nie, hy het net volgens die ooreenkoms gebruik gemaak daarvan.

Nou dreig Oracle om Eskom heeltemal af te sny.

Eskom maak staat op Oracle vir alles van die opwekking en verspreiding van krag tot sy betaalstelsel.

Eskom verduidelik in sy beëdigde verklaring dat kernbedryfsprosesse afhanklik is van die Oracle-stelsels.

Eskom se aanlyn verkoopstelsel vir krag word byvoorbeeld heeltemal op Oracle bedryf en verwerk 77 miljoen transaksies per maand.

Oracle se stelsels monitor ook opwekking by sy kragstasies.

Eskom gebruik ook Oracle se dienste vir die sogenaamde Maximo-stelsel, die stelsel wat instandhouding en kragonderbrekings bestuur.

Laastens noem Eskom dat Oracle-stelsels ook die toepassing van beurtkrag moontlik maak.

Daar sal volgens Eskom “katastrofiese gevolge vir Eskom en Suid-Afrika as geheel wees indien Oracle sy dienste onttrek”.

In 2019, twee jaar nadat die ooreenkoms gesluit is, het Oracle ’n oudit van Eskom se gebruik van sy dienste en produkte van stapel gestuur. Toe het Oracle tot die gevolgtrekking gekom dat Eskom die produkte oorbenut.

Oracle het toe geëis dat Eskom ’n bykomende R7,3 miljard se boetes betaal vir die oorbenutting van sy produkte.

Die bedrag is later deur onderhandeling tot slegs R400 miljoen verminder.

Eskom
Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor in Johannesburg. Foto: Getty Images

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het in 2020 persoonlik aan Oracle geskryf om aan te bied dat die nutsmaatskappy die porsie van die gelde wat as bedryfsbesteding tel, sal vereffen. Die res, die sogenaamde kapitaalbesteding, moet deur die howe bepaal word.

Eskom glo hy skuld Oracle net R166 miljoen.

Oracle wou nie besgee dat die howe daaroor beslis nie.

Tshifhiwa Ratshimbilani, ’n IT-konsultant vir Eskom wat die beëdigde verklaring namens Eskom afgelê het, sê die ooreenkoms met Oracle is duidelik: In die geval van so ’n dispuut moet die howe daaroor beslis.

Eskom voer ook aan hy het ’n grondwetlike verantwoordelikheid om nie net te lag en te betaal as verskaffers meer geld eis nie.

Eskom het op 1 April die saak verloor.

Eskom het versoek dat die hof ’n dringende interdik toeken wat Oracle verhoed om van sy dienste te onttrek totdat regsekerheid oor die bedrae wat Eskom “skuld”, bekom kan word.

Nou hang Eskom se vermoë om krag te voorsien aan ’n draadjie.

Oracle het aanvanklik gedreig om op Goeie Vrydag (2 April) al sy dienste aan Eskom te staak. Dit het nog nie gebeur nie.

Eskom sê vandeesweek in ’n betreklik kort verklaring dat hy nou prosesse vir risikovermindering in plek het ingeval Oracle wel in die komende paar dae sy dienste onttrek.

Meer oor:  Eskom  |  Oracle  |  Kragonderbreking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.