Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom Transmissie: Waar moet ons kragdrade span?
Eskom skep 'n nuwe afdeling wat verantwoordelik sal wees vir die span van kragrade. Foto: Verskaf

Die eersdaags onafhanklike transmissie-afdeling van Eskom sê die regering se nuwe kragplan is goeie nuus, maar om veral nuwe hernubare krag te kan gebruik, moet die kragnetwerk drasties verander.

Segomoco Scheppers, uitvoerende hoof van transmissie by Eskom, het Donderdag die lof besing van sowel die finale geïntegreerde hulpbronplan (IRP) as die spesiale Eskom-besprekingsdokument.

Laasgenoemde is Dinsdag bekend gestel en die IRP verlede week.

LEES OOK: Eskom-plan: Ons moet dadelik iets begin doen

Scheppers sê besonderhede is “so gou as moontlik” nodig om nuwe kragbronne tot die netwerk te kan verbind.

Hy het gepraat op ’n jaarlikse beraad in Midrand oor die transmissie-ontwikkelingsplan (TDP) vir die volgende 10 jaar wat deur die Nasionale Energiereguleerder vereis word.

“Daar is ’n ooglopende behoefte om die transmissie-netwerk beduidend uit te brei, veral in terme van onafhanklike kragprodusente (IPP) en hernubare krag.”

Dit sal volgens hom 4 800 km se bykomende hoëspanningsdrade oor die volgende 10 jaar vereis.

Eskom Transmissie, wat teen einde Maart 2020 heeltemal ontknoop sal wees van Eskom as ’n afsonderlike, staatsbeheerde filiaal, is die bes presterende afdeling van Eskom.

Hoewel die IRP en spesiale besprekingsdokument wat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Dinsdag bekend gestel het, deur die transmissie-afdeling verwelkom is, wil die afdeling dit duidelik maak hoe baie werk gedoen sal moet word.

Dit gaan nie net oor opwekkingsvermoë bou nie, verduidelik Mbulelo Kibido, hoofbestuurder van die kragnetwerk.

“Ek moet weet wáár om drade te lê,” sê hy.

Die IRP, so ambisieus soos dit is, sê nié waar in die land al die nuwe groenkragprojekte gebou gaan word nie. En dié soort kragbronne is ’n enorme deel van die kragplan.

“Ons ingenieurs probeer baie met hulle kristalballe vooruit skat, en doen uitstekende werk vir ons langtermynbeplanning, maar daar is net soveel wat hulle kan raai.

“Ons het tans 4 000 megawatt (MW) se hernubare krag wat tot die kragnetwerk verbind is. Daar kom uiteindelik nog moontlik sowat 13 000 MW by.”

Die probleem vir die transmissie-afdeling is tweedelig: dit vat langer om die infrastruktuur te reël om hernubare krag tot die kragnetwerk te verbind as om die opwekkers te bou, en hernubare krag is baie meer gedesentraliseer as steenkool.

Ronald Marais, senior bestuurder van kragnetwerkbeplanning, verduidelik dit vat agt jaar om onder meer die eiendomsregte te bekom oor die enorme afstande waaroor hulle drade na nuwe opwekkingseenhede moet span. Om die hernubare-kragsentrales te bou, vat slegs drie tot vyf jaar.

Marais sê die hele 10-jaar-TDP hang af van aannames oor waar en hoe opwekkingsvermoë sal uitbrei, wat so akkuraat as moontlik moet wees. Hulle kan doodeenvoudig nie sonder jare se voorafkennis genoeg drade span om nuwe opwekkers dan tot die netwerk te verbind nie.

En hoe meer hernubare krag ons het, hoe meer verspreid opwekking word, hoe belangriker word die transmissie-netwerk én dat hy aanhou doeltreffend werk.

Dié proses is ingewikkeld in terme van wetgewing, eiendomsregte, tegniese vereistes asook konstruksiefaktore.

Dit kan dus nie afgejaag word nie, sê Kibido.

Vir die transmissie-afdeling gaan alles oor beplanning. “Elke sent wat ons spandeer, moet óf regstreeks waarde skep óf ten minste die koste van die kragnetwerk bedryf afbring.

“En hoe meer hernubare krag ons het, hoe meer verspreid opwekking word, hoe belangriker word die transmissie-netwerk én dat hy aanhou doeltreffend werk.”

Teen 2029 gaan 25% van al Suid-Afrika se krag deur hernubare projekte verskaf word, sê Marais.

Tot dusver was die kragnetwerk se opwekkingsvermoë baie gesentraliseer rondom ’n handjievol enorme steenkoolkragsentrales.

’n Derde van die 13 steenkoolkragsentrale wat Eskom bedryf, word binne die volgende drie tot vier jaar uit bedryf gestel.

Marais sê selfs met dié hoë vlakke van sentralisering van die verlede, moes die transmissie-afdeling 7 850 km se hoëspanningsdrade sedert 2005 lê om slegs ’n nuwe 10 700 MW se opwekkingsvermoë tot die netwerk te kon koppel.

Volgens Kibido is daar egter rede om optimisties te wees. As hy weet waar om te begin, sê hy, dan daar sal hy gaan drade begin lê om die energiesekerheid van die land te help bou.

“Vroeër of later sal die ekonomie weer begin groei. Daar is geen manier dat die bevolking kan aanhou groei, en daarmee saam sy behoefte aan goedere en dienste, sonder dat die vraag na krag weer begin toeneem nie,” sê Kibido.

Daarvoor moet en sal hulle reg wees, sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.