Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom, vakbonde haaks oor tugstappe

Eskom en die vakbonde NUM en Numsa het “in beginsel” ’n loonooreenkoms bereik. Maar daar is ’n haakplek oor moontlike dissiplinêre stappe teen werkers wat gestaak het.

Eskom het dié aankondiging Woensdagaand gedoen ná weke van taai onderhandelings wat onder meer deur kragonderbrekings gekenmerk is.

Vakbonde het in Junie met ’n onwettige staking by Eskom begin uit protes teen Eskom se aanbod van ’n 0%-loonverhoging. Vragmotors wat steenkool by sommige kragsentrales wou aflewer, is belemmer om dit te doen en beurtkrag is ingestel weens die druk op die kragnetwerk.

Eskom en die twee vakbonde, wat saam meer as 37 000 werknemers verteenwoordig, het Woensdag weer onder leiding van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vergader.

Die vakbond Solidariteit, wat 7 000 werkers verteenwoordig, het verlede week reeds Eskom se jongste loonaanbod van 7,5% vir vanjaar, 7% vir die daaropvolgende twee jaar en ’n verhoging in behuisingstoelae teen die inflasiekoers aanvaar.

’n Eenmalige kontantbetaling van R10 000 ná belasting is ook aangebied.

Die twee vakbonde sê egter hulle sal slegs die ooreenkoms onderteken indien geen dissiplinêre stappe teen hul lede ingestel word nie.

Dit is ’n voorwaarde wat die kragverskaffer volgens Khulu Phasiwe, Eskom-woordvoerder, nie kan aanvaar nie.

Eskom is geklassifiseer as ’n noodsaaklike bedryf en dit beteken stakings daar is onwettig.

“Eskom wil hê die vakbonde moet die ooreenkoms onderteken en daarna wil hy ons lede afdank,” het Irvin Jim, Numsa se hoofsekretaris, Woensdagaand in ’n verklaring gesê.

Eskom het wel ingestem tot ’n versoek van die vakbonde dat daar met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, asook Eskom se direksie, vergader word.

“Ons wag op ’n uitnodiging van die KVBA en bly hoopvol dat die dooie punt oor dissiplinêre stappe vroeg volgende week opgelos sal word,” het Phasiwe gesê.

Meer oor:  Kvba  |  Num  |  Eskom  |  Numsa  |  Loonooreenkoms  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.