Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom vark in die staatskas-verhaal
Kredietgradeerders wil graag hoor presies wat die staat met Eskom se skuld gaan doen. Foto: Bloomberg

Eskom is in sy huidige formaat bloot nie lewensvatbaar nie, waarsku Bernard Sacks, belastingvennooot van die ouditgroep Mazars.

Hy het op ’n voorlegging in aanloop tot die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gesê die las op die begroting deur Eskom is tweeledig.

Een deel is Eskom se onvermoë om genoeg kontant te genereer om die rente op sy skuld te betaal. Dit beteken in effek Eskom is in sy huidige formaat gewoon nie lewensvatbaar nie. Totdat opgetree word om Eskom te herstruktureer, sal die las net groter word.

Die ander, meer kommerwekkende aspek is die onvermoë van Eskom om diens te lewer, sê Sacks. Op ’n lentedag waarop ’n mens sou dink kragvraag is nie buitengewoon hoog nie, het Eskom onverwags weer beurtkrag aangekondig.

Eskom se vermoë om diens te lewer is op ’n naaldpunt, sê Sacks. Sy energiebeskikbaarheidsfaktor is waarskynlik onder 69%, terwyl die mikpunt is om dit op 80% te kry.

Selfs ’n styging van 0,1% in ekonomiese groei kan tot kragonderbrekings lei, het Nelisiwe Magubane, ’n Eskom-direkteur, onlangs gesê, het Sacks vertel.

Verdeling in 3

Oor die plan om Eskom in drie te verdeel, meen Sacks daar is kommer dat die verdeling nie noodwendig enige voordeel gaan bring nie. “Dit sal ’n lang en duur oefening wees, so daar moet aan die einde ’n duidelike voordeel wees.”

Mike Teuchert, nasionale belastinghoof by Mazars, is skepties oor die plan, want daar is dan drie afsonderlike entiteite met hul eie bestuurstrukture, wat funksies dupliseer.

Die koste op die ekonomie van Eskom se onvermoë om krag te lewer word geraam op sowat R1 miljard per beurtkragfase per dag.

Eskom het al die masjinerie om krag te lewer, maar die toepassing daarvan is nie op standaard nie.

’n Interessante statistiek is dat die verhouding van die staat se rentebetalings tot die bruto binnelandse produk tans die hoogste in 17 jaar is, sê Sacks.

Een van die opsies vir Eskom is om ’n deel van sy skuld na die staat se balansstaat oor te skuif, maar dit sal die staatsfinansies net nog slegter laat lyk. Dit stop net gate toe sonder om die werklike probleme aan te pak.

’n Gebrek aan optrede nou kan beteken dat beurtkrag ’n normale deel van die lewe gaan word, waarsku Sacks.

’n Bose kringloop is aan die gang: Eskom kan nie genoeg kontant genereer om sy rente te betaal nie, en daarom verswak sy verkope, wat tot nog minder kontantgenerering lei.

Soortgelyke krisisse speel af by ander staatsondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens en PetroSA.

Dit gebeur alles teen die agtergrond van ’n dreigende kredietafgradering deur Moody’s Investors Service. Internasionale beleggers se geduld kan begin opraak, waarsku Sacks.

Tito Mboweni, minister van finansies, dien die MTBR op 30 Oktober in die parlement in en Moody’s besluit op 1 November oor Suid-Afrika se kredietgradering.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.