Net meer as 3 800 werknemers en vaste kontrakteurs by Eskom het in die vorige boekjaar nie hul sakebelange verklaar soos Eskom se beleid oor belangebotsings vereis nie.

Eskom het verlede jaar meer as 1 000 tugverhore gehou net oor sakebelange wat nie verklaar is nie. Foto: Getty Images
Getty Images
Dit maak meer as sowat 5% van al Eskom se permanente werknemers en sy vastetermynkontrakteurs uit.
Dit blyk uit ’n antwoord van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, op ’n skriftelike parlementêre vraag van die EFF-parlementslid Andrew Arnolds.
’n Oudit van syfers vir die 2019-’20-boekjaar het ontbloot dat drie Eskom-werknemers aktiewe sakebelange met Eskom-verskaffers gehad het, het Gordhan in sy antwoord bekend gemaak.
Al die gevalle waar werknemers nie belange verklaar het nie, is vir bestuursoptrede verwys, en teen einde September is 1 011 tugverhore al afgehandel, vyf werknemers het bedank, en 82 tugverhore is geskeduleer.
Daar is 808 geskrewe waarskuwings uitgereik en een werknemer is sonder betaling geskors, terwyl 35 werknemers “onskuldig” bevind is, toon Gordhan se antwoord. Die geval van die drie Eskom-werknemers wat aktief met Eskom-verskaffers sake gedoen het, is vir verdere forensiese ondersoek verwys.