Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom ver van sy mikpunte af

Ondanks die gereelde beurtkrag wat Eskom moet kans gee om sy kragsentrales reg te maak, is die beskikbaarheid van sy kragopwekkingseenhede steeds myle agter die mikpunt wat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, laat verlede jaar gestel het.

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof. Foto: Deon Raath

Die skeiding van die afdelings vir kragopwekking, transmissie en verspreiding vorder wel.

Volgens die “Padkaart vir Eskom in ’n hervormde kragverskaffingsbedryf” wat Gordhan in Oktober verlede jaar bekend gestel het, moes die beskikbaarheidskoers van Eskom se opwekkingseenhede teen einde Maart op 73% gestaan het.

Dit was egter tot dusver vanjaar net 61,8%, selfs vrotter as verlede jaar se gemiddelde van 66,93%. Die jongste beskikbare syfers is vir die week van 9 tot 15 Maart en wys die gemiddelde beskikbaarheidskoers was toe 62,08%, met 24,07% van die beskikbare opwekkingsvermoë wat onverwags gebreek het en nóg 12,41% wat uit diens gestel was vir beplande instandhouding.

Eskom se eie vooruitskouing vir die volgende drie maande toon dat daar waarskynlik deurlopend ’n tekort van sowat 2 000 MW se opwekkingsvermoë gaan wees. 2 000 MW is gelykstaande aan die hoeveelheid kragverskaffing wat gespaar word tydens fase 2-beurtkrag.

Eskom sê hy het nietemin vordering gemaak met die verdeling van sy bedrywighede in afsonderlike eenhede vir kragopwekking, transmissie en verspreiding.

Onder die leiding van Eskom se nuwe uitvoerende hoof, André de Ruyter, het die groep afgesien van die term “ontbondeling” wat in die padkaart gebruik word. Volgens De Ruyter is dít om die indruk te beveg dat die herstrukturering van Eskom noodwendig dui op privatisering, ’n term wat baie politieke weerstand ontlok.

Volgens die padkaart moet die transmissie-afdeling teen einde Maart ’n tussentydse direksie en eie uitvoerende hoof hê.

Wat die verdeling betref, is direksie-poste intern gevul. Die drie nuwe uitvoerende hoofde, Bheki Nxumalo vir kragopwekking, Segomoco Scheppers vir transmissie en Monde Bala vir verspreiding, was al drie tot nou toe groepsbestuurders van die onderskeie afdelings.

Die personeel wat voorheen die afdelings sentraal bedien het, soos in mensehulpbronne, finansies, tegnologie en aankoopbestuur, doen nou regstreeks verslag aan bestuurders van die onderskeie afdelings. Dít bring groter verantwoordbaarheid en beheer mee, sê Eskom.

Die stappe wat gevolg moet word om die afdelings se finansies te skei is uiteengesit en ’n ontleding is gedoen oor die impak op Eskom se rekenaarstelsels.

Transmissie

Die transmissiemaatskappy moet volgens die padkaart in die toekoms funksioneer as ’n onafhanklike markoperateur wat energie koop van Eskom en ander kragopwekkers en verkoop aan verskeie kragverspreiders.

Wat dit betref het Eskom die stelsel geformaliseer waarvolgens sy onderskeie kragstasies ’n dag vooruit die stelseloperateur moet laat weet hoeveel krag hy uur-vir-uur beskikbaar sal hê.

Soos die geval was voor 2005 is dié ooreenkomste met kragstasies nou bindend en daar is ’n stelsel van aansporings en strafmaatreëls om akkurate vooruitskattings te verseker.

’n Tariefstelsel met formele kragkoopooreenkomste met elke kragstasie word nou nageboots. Dit moet voorsiening maak vir vaste en bedryfskoste per uur wat die stelselontleder in staat sal stel om deurlopend die kostedoeltreffendste mengsel van opwekkingsbronne te gebruik.

Die stelsel sal egter nie uitgebrei kan word na die onafhanklike kragverskaffers wat tans gekontrakteer is vir kraglewering aan Eskom nie omdat hulle self bepaal wanneer hulle krag lewer en die tariewe waarteen Eskom hulle krag koop vasgestel is vir die duur van hul kontrakte, meestal 20 jaar.

Om die onafhanklike markoperateur te laat werk, sal die kontrakte met onafhanklike kragverskaffers voortaan anders moet lyk en die aankoopproses wat tans deur die minister van minerale hulpbronne en energie in die volgende paar maande in die vooruitsig gestel word, sal waarskynlik nog nie daarvoor voorsiening maak nie.

Eskom meen dit sal ’n jaar of twee neem voordat die stelsel so verfyn is met die nodige regulatoriese aanpassings dat die kragkoopkontrakte in die nuwe vorm, gereed vir die onafhanklike kragmark, ’n werklikheid word.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Beurtkrag  |  Boere  |  Krag  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Groenkrag  |  Ipp  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Landbou  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.