Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom-verhoging krap munisipale geldsake om

Munisipaliteite sal hul besteding moet herprioritiseer om voorsiening te maak vir die verhoging van byna 10% wat aan Eskom toegestaan is, het die Finansiële en Fiskale Kommissie (FFK) Vrydag in die parlement gesê.

Melkbosstrand North of Cape Town South Africa Powe
Tot 128 uit die totaal van 257 munisipaliteite in die land verkeer in ’n geldknyp. Foto: Getty Images

Die FFK het gewys op toekennings uit die staatskas aan munisipaliteite wat oor die volgende drie jaar met 8,4% sal groei, maar met Eskom se verhoging in kragpryse teen 9,4% of selfs meer, beteken dit daar is groter druk op die beperkte hoeveelheid geld wat munisipaliteite kan bestee.

Die FFK het in sy kommentaar oor die jongste begroting aan ’n gesamentlike sitting van die gekose komitees oor toedelings van die nasionale vergadering en die nasionale raad van provinsies gesê die FFK verwelkom die moontlikheid dat sekere funksies van openbare vervoer in die komende boekjaar na metropolitaanse munisipaliteite afgewentel sal word.

Dit is ’n verwysing na die voorstel dat die verantwoordelikheid en toesig oor byvoorbeeld Prasa se Metrorail-spoorpendeldiens aan die betrokke stedelike munisipaliteite oorgedra behoort te word sodat die stede hul openbarevervoerstelsels beter kan koördineer.

In die begroting is genoem dat R20,2 miljard sal regstreeks na dié munisipaliteite oorgedra word om die kontrakterings- en regulatoriese funksies vir openbare vervoer te kan oorneem.

Die FFK sê hy het al voorheen dié devolusieproses aanbeveel en ’n besluit daaroor moet sonder verdere vertraging geneem word.

Dorpe se geldsake beroerd

Thakane Legere van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) het gewaarsku dat die munisipaliteite se geldsake beroerd is. Tot 128 uit die totaal van 257 munisipaliteite in die land verkeer in ’n geldknyp, en in 2017 het net 145 ongekwalifiseerde oudits ontvang. Teen 2018 het 40 munisipaliteite negatiewe kontantbalanse gehad.

Legere meen voorwaardelike toekennings uit die staatskas moet meer buigsaam wees. Sy vra dat die toekennings aan plaaslike regerings uit die nasionale inkomste verhoog moet word.

Salga wil hê dat Eskom uit die munisipale elektrisiteitsverspreidingsmark verwyder moet word, en dat daar duidelikheid moet kom oor die verwarring oor die onderskeie magte en funksies tussen plaaslike regerings en ander dele van die regering.

Munisipaliteite kan nie Eskom betaal

Legere meen die Witskrif oor Plaaslike Regering van 1998 behoort hersien te word. Dié witskrif het voorsien dat plaaslike regerings tot soveel as 90% van hul besteding uit hul eie inkomstebronne kan finansier, maar dit is tans duidelik nie moontlik nie. Die witskrif het aangeneem dat 37% van plaaslike regerings se bedryfsuitgawes deur die verkoop van krag gefinansier kan word, maar Eskom se eie strategie sedert 1998 het dié teiken onmoontlik gemaak.

Daar is hoë distribusieverliese. Al betaal almal hul rekeninge kan die munisipaliteit steeds nie genoeg inkomste genereer om Eskom te betaal nie. Die distribusieverliese van elektrisiteit is sowat R65 miljard per jaar. Distribusieverliese met watervoorsiening is sowat R20 miljard en daar kan heelwat gespaar word as instandhouding verbeter.

Daar is egter ’n tekort van R50 miljard per jaar aan besteding aan munisipale instandhouding, waarsku Legere.

Salga glo die voorgestelde herstrukturering van Eskom moet die huidige distribusiemodel se impak op die finansiële lewensvatbaarheid van munisipaliteite in ag neem.

Wat op kort termyn die geldsake van munisipaliteite sal help, is as ander staatsinstellings binne 90 dae hul skuld aan munisipaliteite ten volle betaal, d.w.s. teen einde Mei.

Salga beveel op lang termyn aan dat die hele stelsel van voorwaardelike toedelings hersien moet word sodat dit meer buigsaam en koste-doeltreffend is.

Meer oor:  Eskom  |  Salga  |  Kragtariewe  |  Munisipaliteite  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.