Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom verminder sy skuld met R83 miljard

Eskom skuld nou net R401 miljard teenoor R484 miljard voorheen, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Dinsdag bekend gemaak.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Gallo Images

Calib Cassim, finansiële hoof van Eskom, het op die mediakonferensie ná Gordhan se begrotingsposdebat in die parlement verduidelik hoe Eskom se skuld afgeneem het.

Dit is weens R50 miljard se skuld wat afbetaal is, tesame met R35 miljard se wins uit wisselkoersverskansing.

Eskom verskans ’n groot deel van sy skuld teen wisselkoersveranderinge en volgens Cassim sal Eskom in die komende jaar nog voordele daaruit kry, afhangende van die wisselkoers.

’n Aparte transmissiemaatskappy onder Eskom se vlerk sal al teen einde van vanjaar in bedryf wees, sê Gordhan.

Eskom gaan boonop sekere munisipaliteite se kragverspreidingsnetwerke oorneem waar die betrokke munisipaliteite nie die mas opkom nie en waar hulle groot bedrae aan Eskom skuld.

Die regering neem ook kennis van die Internasionale Energieagentskap (IEA) se jongste verslag oor die padkaart na ’n laekoolstofekonomie, het Gordhan in sy begrotingsposdebat gesê.

Transnet

Oor Transnet het Gordhan genoem sowat R100 miljard gaan in Durban se hawe belê word, terwyl daar gesorg sal moet word dat ander hawens soos Kaapstad, Saldanha, Gqeberha en Ngqura (20 km noordoos van Gqeberha) ook die nodige toerusting het om hul werk te doen.

Transnet sal later bekend maak hoe die R100 miljard bestee gaan word. Sommige daarvan sal wel private-openbare-vennootskappe wees, waarvan drie transaksies voor die einde van die lopende boekjaar beklink sal word, het Portia Derby, uitvoerende hoof van Transnet, op die mediakonferensie ná Gordhan se toespraak gesê.

Die steel van kabels is een van die groot probleme vir Transnet; dit ontwrig sy spoorbedrywighede.

Oor kritiek dat dit lyk asof Transnet se pad-tot-spoor-inisiatief ontspoor, sê Derby daar is ’n toename in die spoorvervoer van graan, mangaanerts en chroomerts tussen Gauteng en Durban. Die treinrit op die roete is gewoonlik 20 uur, maar weens kabeldiefstal kan dit tot 38 uur vat.

Weens kabeldiefstal moet Transnet meer diesel gebruik en stel dit sy poging in gevaar om na ’n laekoolstofekonomie te skuif, waarsku Derby.

Denel

Denel se hoofkantoor in Pretoria. Foto: Reuters

Oor Denel gee Gordhan toe die wapenvervaardiger gaan deur ’n baie moeilike tyd. Denel gaan herstruktureer word van ses sake-eenhede na net twee.

Denel sal hulp nodig hê en die verkoop van niekernbates kan help om sy herskikkingsplan te finansier.

Daar word steeds met die tesourie gepraat om geld vir Denel te kry, sê Kgathatso Tlhakudi, direkteur-generaal van openbare ondernemings.

Gordhan het sy spyt uitgespreek dat Denel in Mei 2020 laas volledige salarisse aan sy personeel kon betaal en werknemers word tans sowat R500 miljoen geskuld.

Meer oor:  Transnet  |  Denel  |  Eskom  |  Calib Cassim  |  Pravin Gordhan  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.