Weens ’n misverstand en swak kommunikasie het die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) nie Dinsdag Eskom se jaarverslag ontvang nie.

Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor in Johannesburg. Foto: Getty Images
Eskom het ’n herrie veroorsaak op ’n vergadering van Skoor deurdat hy ter elfder ure kennis gegee het dat hy “nie gereed” gaan wees vir die vergadering wat al op 12 Februarie versoek is nie.
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het probeer verskoning maak vir Eskom se versuim om aan Skoor verslag te doen oor sy jaarverslag en huidige ondersoeke, waaronder dié van die spesiale ondersoekeenheid (SOE).
Maar Eskom voer aan dat hy verwar is deur Skoor se twee briewe – een op 12 Februarie en een op 19 Februarie.
Prof. Malegapuru Makgoba, voorsitter van Eskom, het te velde getrek oor die “verwarring” wat Skoor veroorsaak het met sy twee afsonderlike versoeke.
Op die 12de het Skoor versoek dat Eskom sy jaarverslag voorlê aan die komitee. Eskom was ook veronderstel om uit te brei en toestemming te vra vir enige uitbreidings en afwykings van sy huidige tenders en verkrygingsprosesse.
Op 19 Februarie het Skoor ook versoek dat die jaarverslag aan die komitee oor Eskom se huidige ondersoeke op dieselfde dag ingehandig sal moet word en voorgestel dat daar twee afsonderlike vergaderings sou geskied – een om 09:30 tot 13:00 vir die jaarverslag en ondersoeke, en een om 18:30 vir die uitbreidings en afwykings.
Makgoba sê Eskom ís gereed om sy jaarverslag voor te lê, maar nie alles op een slag nie.
Gordhan het aangevoer dat Eskom egter nié gereed is om die jaarverslag, wat al tussen vier en vyf maande gelede voltooi is, voor te lê nie.
LP’s in die komitee was ontsteld hieroor.
Bheki Hadebe, ANC-LP, sê Eskom wil spesiale behandeling hê. “Ons moet ons voet neersit,” het hy gesê.
Ntombovuyo Mente, EFF-LP, het ’n stewige waarskuwing aan Eskom gerig. “Dit is die eerste en laaste keer dat hulle nie gereed sal wees vir ons nie. As hul huis nie in orde is nie, is dit nie ons probleem nie.”
Skoor het ingestem dat Eskom nou op 3 Maart sy jaarverslag en stand van ondersoeke sal voorlê.
Gordhan sê deel van die rede vir die kort kennisgewing is omdat hy nie die brief van die 19de betyds gelees het nie.
Die brief het Vrydag gearriveer, en hy het dit eers ná die naweek oopgemaak.