Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom vorder drupsgewys met munisipale skuld

Eskom vorder wel stadigaan met die invordering van agterstallige skuld van munisipaliteite.

Munisipale skuld aan Eskom styg, maar nie so vinnig soos in vorige jare nie.

Teen einde Maart vanjaar was die terugbetalingskoers van kragrekeninge 93,7%, teenoor die vorige boekjaar se 92%.

Die toename in agterstallige skuld van munisipaliteite is ook stadiger. Teen einde Maart was daar R7,3 miljard meer skuld wat agterstallig is, teenoor die toename van R8,2 miljard in die vorige boekjaar. Dit was ’n styging van 26% teenoor die vorige boekjaar se 41%.

Díe inligting kom uit ’n skriftelike parlementêre antwoord van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, aan Andrew Arnolds, EFF-parlementslid in die Nasionale Raad van Provinsies.

Die totale agterstallige skuld van munisipaliteite aan Eskom was teen einde Maart R35,34 miljard.

Die terugbetalingskoers van 93,7% beteken dat uit die kragrekeninge vir R106,6 miljard wat Eskom in die boekjaar tot einde Maart uitgestuur het, kon hy R100 miljard invorder, het Gordhan gesê.

k

Oor wat Eskom doen om sy skuldinvordering van munisipaliteite te verbeter, het Gordhan verduidelik dat hy hom onder meer tot die howe gewend het om kontraktuele kredietbeheermaatreëls af te dwing. Dit beteken hy dreig munisipaliteite met regstappe as hulle hulle nie wil hou by ooreenkomste oor die terugbetaling van hul agterstallige rekeninge nie.

Van dié strategieë van Eskom is deur sekere sakeorganisasies teengestaan omdat hulle voel dit benadeel onregverdiglik sommige maatskappye wat getrou hul kragrekeninge aan munisipaliteite betaal. Hulle sit dan sonder krag omdat Eskom die kragtoevoer na die hele munisipaliteit afsny as die munisipale owerheid nie sy skuld betaal het nie.

Volgens Gordhan het Eskom sy invorderingsprosesse hersien om dit in ooreenstemming te bring met die Wet op Interregeringsverhoudinge. Dit het gevolg op ’n uitspraak van die appèlhof in Desember verlede jaar wat Eskom verbied om die krag na plaaslike gemeenskappe af te sny weens munisipale wanbetaling.

LEES OOK: Eskom moet opdok oor hy krag afsny

Die organisasie Sakeliga het in April gemeld dat Eskom wel by die konstitusionele hof teen die appèlhofuitspraak gaan appelleer. Sakeliga is egter vasbeslote om dié saak ook teen te staan om betalende sakelui te beskerm.

Eskom het volgens Gordhan ook begin met ’n veldtog waar hy munisipaliteite aktief help met hul kragverspreiding, asook invordering, om te keer dat hul rekeninge agterstallig raak.

Eskom het in Junie aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge ook verslag gedoen oor beter invordering van munisipaliteite in sy 2019-’20-boekjaar. Die terugbetalingskoers van die 20 munisipaliteite met die meeste Eskom-skuld, het van 42% teen Maart 2020 tot 49% teen September 2020 verbeter, het Eskom in Junie gesê.

Eskom vorder ook met die insameling van agterstallige kragskuld van die inwoners van Soweto, wat oor die jare berug geraak het vir hul wanbetaling. Die invorderingskoers daar het van so laag as 12,5% in Maart 2019 tot 21% teen Maart 2020 verbeter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.