Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom vra R8 mjd. ekstra uit vorige tariefjaar

Eskom vra R8,42 miljard se “verlore” inkomste terugwerkend uit sy 2019-’20-tariefjaar.

Eskom
Eskom se Kusile-kragstasie op 'n afstand. Foto: Elvira Wood

Dit kan kragtariewe waarskynlik teen volgende jaar met meer laat styg as wat tans verwag word indien die nasionale energiereguleerder (Nersa) gee wat Eskom vra.

Swakker kragverkope as wat verwag is, tesame met groter besteding aan diesel om beurtkrag te keer, asook groter besteding aan olie om steenkoolkragstasies aan die gang te skop en om elektrisiteit van buurlande aan te koop, is die grootste bydraers tot die “verlore” inkomste wat Eskom vra.

Nersa het Eskom se jongste aansuiweringsaansoek (RCA) op 31 Mei vir openbare kommentaar gepubliseer.

Belanghebbers het tyd tot einde Junie om skriftelike kommentaar daarop te lewer.

Nersa beplan van 5 tot 9 Julie ’n reeks openbare sittings via Microsoft Teams oor die RCA-aansoek. Sy elektrisiteitsubkomitee sal dan op 23 Julie beraadslaag en Nersa hoop om op 26 Augustus sy besluit oor die aansoek bekend te maak.

Só meen Eskom het hy verloor:
  • Kragverkope in sy 2019-’20-tariefjaar was R5,629 miljard minder as wat Nersa gereken het dit sou wees;
  • Eskom het in effek R1,804 miljard minder aan steenkool bestee. Hoewel hy effe meer steenkoolvolumes gebruik het, kon hy dit teen laer pryse koop as wat Nersa hom in die oorspronklike tarief toegelaat het;
  • Weens beurtkrag moes Eskom egter R2,4 miljard meer aan diesel bestee om sy spitstydkragstasies aan die gang te hou;
  • Weens die aansienlik meer onbeplande voorvalle waar kragopwekkingseenhede by steenkoolkragstasies afgeskop of gebreek het, moes Eskom meer bestee aan brandstofolie. Dit is die swaar olie wat soos vuuraanstekers by ’n braai gebruik word om steenkool by sy stoomketels aan die brand te steek of die stoomketelvlak stabiel te hou. Eskom moes R2,209 miljard meer hieraan bestee; en
  • Eskom het R1,645 miljard meer bestee aan kragaankope van Mosambiek se Cahora Bassa-hidrokragstasie as wat in die oorspronklike tarief ingereken is.

Die Eskom-aansoek, wat in Desember ontvang is, sal te laat wees vir vanjaar se tariefverhogings, wat al in April in werking getree het vir regstreekse Eskom-kliënte, en van Julie af vir munisipale kraggebruikers.

Die RCA-meganisme is ’n manier waardeur Eskom kan aansoek doen vir ekstra inkomste wanneer die aannames waarop gesteun is vir die tariefbesluit vir die betrokke jaar verskil van wat toe werklik gebeur het met die faktore waarop die tariewe gegrond is.

Eskom beklemtoon dat hy nie enige verlore kragverkope weens beurtkrag in die aansuiweringsaansoek ingesluit het nie.

Die aansoek kom in die konteks van ’n reeks hofsake waarin Eskom vra dat vorige Nersa-besluite hersien word.

Chris Yelland, energiekenner en uitgewer van EE Publishers, meen die verhouding tussen Eskom en Nersa het die afgelope jare toenemend konfronterend geword, en die jongste RCA-aansoek kom te midde van ’n paar ander hofbeslissings oor vorige tariefbesluite wat nog uitgeklaar of in werking gestel moet word.

Elke keer as Eskom nie met Nersa se besluit saamstem nie, word dit in die hof beveg en moet Nersa besluite hersien, en die vertragings beteken bloot die agterstallige inkomste wat Eskom eis, hoop op. As die jongste aansoek goedgekeur word, kom dit neer op 'n ekstra tariefverhoging bo-op die reeds goedgekeurde tariefstyging wat op 1 April 2022 ingestel sal word.

    Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Aansuiweringsaansoek  |  Elektrisiteit  |  Rca
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.