Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: Vrae oor direksie se rol in R8 mjd.-kontrak

Moet die Eskom-direksie aanspreeklik gehou word vir die sluit van ’n kontrak van R8 miljard met Econ Oil?

Dié vraag word nou geopper terwyl die einste direksie die kontrak in die hof probeer omkeer.

An electricity pylon stands beyond an Eskom sign a
Econ Oil het sedert 2012 kontrakte vir die lewering van olie aan Eskom gehad. Foto: Getty Images

Econ Oil het sedert 2012 verskeie Eskom-kontrakte gehad, maar dis die laaste een, wat in Oktober 2019 gesluit is, wat die betreklik nuwe Eskom-direksie onder verdenking plaas.

André de Ruyter, wat op 15 Januarie 2020 uitvoerende hoof van Eskom geword het, voer in hofstukke aan Eskom se besluit om dié tender toe te ken eerder as om Econ as verskaffer te skrap, was nie die rasionele ding om te doen nie.

Jabu Mabuza, voorsitter van die direksie, was in Oktober 2019 die waarnemende uitvoerende hoof ook nadat Phakamani Hadebe in Julie 2019 bedank het. Die voormalige MTN-hoof het bedank omdat die spanningsvolle taak sy gesondheid geknou het; hy was net 19 maande in die pos.

Solly Tshitangano is verlede week as Eskom se verkrygingshoof afgedank grootliks weens dié kontrak.

Die voorsitter van sy dissiplinêre verhoor, adv. Nazeer Cassim, het egter in sy verslag oor Tshitangano geskryf “stappe moet gedoen word om verliese te herwin en daardie direkteure wat die wandade moontlik gemaak het, moet verantwoordbaar gehou word,” berig City Press.

Geen direkteure word by name genoem nie.

’n Nuwe kontrak met Econ Oil vir die lewering van olie aan Eskom is op 28 Oktober 2019 gesluit. In dié stadium was dit aan die direksie bekend dat ’n “onbehoorlike” verhouding tussen Econ en Thandi Marah, ’n senior Eskom-bestuurder, bestaan het.

Dit was volgens ’n voorlopige verslag na Econ wat deur die regsfirma Bowmans opgestel is nadat die direksie Bowmans gevra het om verskeie bewerings van korrupsie en finansiële wanbestuur by Eskom te ondersoek.

Marah is in Desember 2018 geskors en het in Januarie 2019 bedank, net nadat Bowmans se voorlopige verslag uitgereik is. Dit het gehandel oor vorige kontrakte met Econ.

Dis hier waar dinge duister raak. Eskom het Bowmans se mandaat in Februarie 2019 opgeskort en die voorlopige verslag is “toegelaat om stof te vergader”, berig News24. Daarna is die kontrak in Oktober 2019 gesluit.

Bowmans is heelwat later gevra om sy ondersoeke na Econ Oil te hervat en het in Mei en Oktober 2020 verslae daaroor aan Eskom gegee, berig News24.

Sikonathi Mantshantsha, Eskom se woordvoerder, het aan City Press ontken dat Cassim die direksie geïmpliseer het.

Al sewe Eskom se nie-uitvoerende direkteure was reeds direkteure toe die Econ-kontrak goedgekeur is. Hulle is prof. Malegapuru Makgoba, voorsitter, prof. Tshepo Mongalo, Nelisiwe Magubane, dr. Rod Crompton, dr. Pulane Molokwane, dr. Banothile Makhubela en Busisiwe Mavuso.

Sifiso Dabengwa het in Julie 2020 as direkteur bedank juis omdat hy van die res van die direksie oor die kansellasie van ’n oliekontrak verskil het, het Business Day toe berig. Hoewel Econ nie by name genoem word nie, blyk dit Dabengwa het nie saamgestem met ’n verslag oor ’n olieverskaffer nie omdat hy geglo het dit bewys nie onomwonde dat daar bedrog en korrupsie was nie.

Mabuza, voormalige voorsitter, het in Januarie 2020 bedank nadat dit bekend geword het ’n niggie van hom, Nomvula Mabuza, se maatskappy, IDS Africa, het ’n kontrak van R100 miljoen gekry om ketelpype by die Medupi-kragstasie te onderhou. Weens onreëlmatighede en oordrewe pryse is die kontrak geskrap.

Dis onseker wanneer nog twee direkteure, Jacky Molisane en Sindi Mabaso-Koyana, by Eskom weg is.

Meer oor:  Eskom Files  |  Econ Oil  |  Eskom  |  Solly Tshitangano  |  André De Ruyter  |  Olie  |  Krag  |  Tenderbedrog  |  Eskom-Korrupsie  |  Korrupsie  |  Elektrisiteit  |  Eskom-Tenders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.