Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom wen hofsaak, kragpryse mag met 10% styg
’n Hofuitspraak gaan Eskom toelaat om kragtariewe met ’n verdere 10% te verhoog. Foto: Bloomberg

Suid-Afrikaners gaan die volgende drie jaar baie meer vir hul elektrisiteit betaal.

Dit volg nadat die hooggeregshof in Pretoria Dinsdag die kragverskaffer toegelaat het om R69 miljard van verbruikers terug te kry.

Die hof het toegelaat dat Eskom in 2021-’22 tariewe van 116,72 c/kwh tot 128,24 c/kwh mag verhoog. Dit is ’n verhoging van bykans 10%.

In die daaropvolgende twee jaar, mag Eskom elke jaar pryse verhoog, om ’n verdere R23 miljard per jaar in te samel.

Die R69 miljard waaroor die hof moes beslis, is ’n reddingsboei wat die staat aan Eskom toegestaan het.

Die R69 miljard sou oor drie jaar aan Eskom beskikbaar gestel word.

Die R23 miljard per jaar sou Eskom toelaat om die rente op sy skuld te betaal, sekere skuld af te betaal en om aan dringende bedryfsverbeterings te bestee.

Nersa het egter die R23 miljard per jaar vir 2019-’20, 2020-’21 en 2021-’22 van Eskom se toelaatbare inkomste afgetrek toe hy in September 2018 ’n besluit oor tariewe geneem het.

Dit het die gelykwaardige reddingsboei van die regering om Eskom se berg skuld van sowat R500 miljard te betaal, as’t ware ongedaan gemaak.

Eskom het die hof genader om te beslis dat dié reddingsboei nie só by berekeninge ingesluit kon word nie.

Nersa het in Junie – nadat die hofsaak reeds aan die gang was – erken dat hy ’n fout gemaak het toe hy die R69 miljard by sy berekeninge ingesluit het.

Regter Fayeeza Kathree-Setiloane sê in haar uitspraak dat Nersa nou onredelike besluite geneem het in drie opeenvolgende aansoeke deur Eskom.

Sy sê dit wys vir haar dat daar ’n “greintjie van onbekwaamheid aan die kant van Nersa” is wat betref Eskom se tariefaansoeke.

Kathree-Setiloane verwys na die hooggeregshof se uitspraak in Maart om Nersa se besluit oor Eskom se aansuiweringsaansoek (RCA-aansoek) vir die 2018-’19-boekjaar ter syde te stel.

Die RCA-proses is waar Eskom kan vra vir ekstra inkomste as die werklike markfaktore verskil van die aannames waarop hy sy aanvanklike tariefaansoek vir ’n betrokke boekjaar gegrond het.

Regter Jody Kollapen het bevind dat Nersa basiese rekeningkundige beginsels oortree het toe dié besluit geneem is.

Oor die jongste besluit deur Nersa, sê Kathree-Setiloane het die reguleerder ’n “verskriklike” fout gemaak toe hy die R69 miljard van die toelaatbare inkomste afgetrek het.

Sy sê in haar uitspraak dat Nersa ook nie “sy brood aan albei kante gebotter kan hê” deur aan die een kant te erken dat hy ’n fout gemaak het toe hy die R69 miljard afgetrek het, maar aan die ander kant dan nie vir Eskom wil toelaat om tariewe te verhoog om dit te verhaal nie.

Nersa sê Dinsdag in ’n verklaring dat hy kennis neem van die uitspraak. Hy sê dat dit volg op sy erkenning van “prosedurele onbillikheid” toe hy die besluit geneem het.

“Nersa neem met ernstige kommer kennis dat die uitspraak verder gegaan het as Nersa se erkenning van prosedurele onbillikheid,” sê hy in die verklaring.

“As die uitspraak nie betwis word nie, sal dit nie net die bedryf ontwrig nie, maar ekonomiese herstel verder onderdruk, met inagneming van die huidige uitdagings wat die ekonomie beleef.

“Hierdie saak was nie bloot ’n saak tussen Eskom en Nersa nie, maar eerder ’n saak van Eskom teenoor die Suid-Afrikaanse ekonomie en elektrisiteitsverbruikers,” lui die verklaring.

Nersa sê hy bestudeer die uitspraak en sal mettertyd aandui hoe hy daarop gaan reageer.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.