Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom wil gepeuter aan steenkool-vragte vasvat
Eskom benodig tonne steenkool vir kragopwekking. Foto: Argief

Al die steenkool vir die Kusile-kragstasie in Mpumalanga word per vragmotor daarheen vervoer, want die myn is nog nie gereed nie.

Dan Mashego, hoofbestuurder vir primêre energie by Eskom, het voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê Eskom gebruik nou sy eie inspekteurs om die gehalte van die steenkool na te gaan.

“Ons verseker dat elke ton steenkool wat van die myn soontoe kom, aan ons gehaltestandaarde voldoen.”

Mashego het toegegee daar is ongure karakters wat peuter aan die steenkoolvragte op vragmotors. Die vragmotors word nou geïnspekteer en hulle word teruggestuur as opgemerk word dat daar gepeuter is aan die vrag. As daar gevind word dat daar met ’n sekere verskaffer se steenkoolvrag gelol is, word die verskaffer ingeroep en kan hy nie weer steenkool aan Eskom lewer nie.

Daar is Eskom-monitors by die myne, asook by die kragstasie, om seker te maak die steenkool is van die regte gehalte.

Monsters word outomaties by myne geneem. Die laboratoriums wat dit ontleed, is onder Eskom se toesig en beheer, het Mashego beklemtoon.

Die steenkool word intyds 24 uur van die dag gemonitor.

Eskom het ná Skoor se oorsigbesoek in Oktober verlede jaar die steenkoolkontrakte vir Kusile hersien om seker te maak dit voldoen aan die nodige gehaltestandaarde, sê Mashego.

Eskom praat met Transnet om ’n sentrale binnelandse steenkooleindpunt te ontwikkel van waar steenkool per spoor na kragstasies vervoer kan word.

By die Medupi-kragstasie in Limpopo kom die steenkool met ’n vervoerband direk van Exxaro se Grootegeluk-myn. Die steenkool word voortdurend getoets vir gehalte en die kontrak maak voorsiening vir laer pryse as die gehalte nie reg is nie.

Dit blyk daar word steeds gesloer met die ontwikkeling van die steenkoolreserwes van New Largo wat dié maatskappy by Anglo Coal oorgekoop het. Dit is naby Medupi en is veronderstel om met ’n nuwe vervoerband na die kragstasie te gaan.

Eskom ondersoek ook die benutting van sy steenkool-as om gips te vervaardig en te verkoop as ’n ekstra bron van inkomste, en sodoende die koste te verlaag om die as te laat verwyder, sê Mashego.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, sê dit gaan nog lank neem om Eskom reg te ruk. Benewens kragopwekking is baie werk nodig aan Eskom se transmissie- en verspreidingsnetwerk.

Hy gee toe beheermeganismes moet verbeter.

Dit kos Eskom R17 miljoen per maand om steenkool-as te verwyder van sy kragstasies, maar dit gaan ’n eenmalige kapitaalkoste van R100 miljoen kos om self iets met die as te doen, sê hy.

Oor die gemiddelde koers van rekeningbetaling in die Johannesburgse voorstad Soweto, wat tot 25% verbeter het, sê De Ruyter Eskom gaan nou in Soweto in en sny krag af in gebiede waar net 0% tot 30% van rekeninge betaal word. Dit is onafwendbaar as Eskom wil ophou om elektrisiteit verniet weg te gee.

Wat die uitbreiding van nuwe groenkragaanlegte betref, wil Eskom uit die staanspoor betrokke wees by die nuwe bodrondes om seker te maak hoeveel kragopwekking aangebied word en teen watter prys.

Die eerste kontrakte wat in die eerste en tweede rondes toegeken is, is teen baie gunstige tariewe beklink, en Eskom wil onderhandel om die koste van dié elektrisiteit te verlaag vir die hele Suid-Afrika.

Meer oor:  Transnet  |  Eskom  |  Steenkool  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.