Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom wil waaragtig nóg ’n kragstasie bou

Eskom het planne vir die oprigting van ’n gaskragstasie van 3 000 MW buite Richardsbaai. Dít terwyl die kragreus nog sukkel om sy Medupi- en Kusilekragstasie te voltooi en knak onder die las van skuld wat hy aangegaan het om die twee steenkoolkragstasies te bou.

'n Foto van Murray & Roberts van die Medupi-kragstasie van Eskom waaraan hy help bou het.

Tito Mboweni, minister van finansies, het die afgelope week ’n regeringsreddingsboei van R59 miljard oor die volgende twee jaar vir Eskom aangekondig.

Dít sal Eskom na verwagting staande hou, maar Mboweni het gewaarsku dat dit die staatskuld gaan verhoog en belasting opjaag.

Eskom doen tans ’n haalbaarheidstudie vir die beplande kragstasie. ’n Hersiene verslag oor omgewingsimpak is pas vir kommentaar gepubliseer.

Dit is nog nie duidelik wanneer die kragstasie ’n werklikheid gaan word nie. Eskom verwag om in Januarie volgende jaar die omgewingsmagtiging te kry en einde volgende jaar die watergebruikslisensie.

Die kragreus het die afgelope week aan Rapport gesê daar sal eers duidelikheid wees oor die moontlike oprigtingskoste wanneer die haalbaarheidstudie voltooi is. Eers dan sal finansiering gesoek word.

Die tydsraamwerk is boonop afhanklik van die finalisering van die land se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wat die rigting sal aandui vir Suid-Afrika se toekomstige kragvoorsiening en bepaal hoeveel van watter opwekkingstegnologie in die toekoms ingespan sal word. Dié plan is nog nie sedert 2016 hersien nie, maar die jongste weergawe is tans by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) en sal na verwagting later vanjaar deur die kabinet goedgekeur word.

Eskom se planne kom teen die agtergrond van vroeëre planne van die departement van energie om altesaam 3 000 MW se gasopwekkingsvermoë van private kragverskaffers te koop. Dit sou bestaan het uit 1 000 MW in Koega in die Oos-Kaap en 2 000 MW in Richardsbaai.

Dié planne het intussen vasgeval in afwagting van die hersiene IRP.

Transnet

Transnet het die afgelope week aangekondig die Wêreldbank gaan hom help met die finansiering van ’n haalbaarheidstudie vir ’n vloeibare-aardgas-eindpunt by Richardsbaai.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, sê die Saoedi-Arabiese staatsoliemaatskappy Saudi Aramco gaan help met die oprigting.

Wayne Glossop, sake-ontwikkelingsbestuurder vir Suid-Afrika by Wärtsilä Energy Solutions, sê Eskom se gaskragstasie by Richardsbaai was op die tekenbord lank voor die departement van energie se plan om private kragverskaffers te betrek. Dit is nie duidelik waarom Eskom stilweg in die agtergrond daarmee voortgaan nie, sê hy.

Volgens Glossop is die tegnologie wat Eskom in gedagte het, naamlik ’n gekombineerde siklusgasturbine (CCGT), nie meer in pas met moderne behoeftes nie. CCGT is tradisioneel gebruik as plaasvervanger vir steenkool-basiskrag, dus ’n kragstroom wat deurlopend konstant bly.

Met die toenemende gebruik van hernubare krag, wat gedurig wissel na gelang van die beskikbaarheid van wind en sonskyn, het die behoefte verander na buigsame kragvoorsiening. Die rol van gas is nou om die wisselvallige hernubare krag aan te vul en meer buigsame gastegnologie soos gasenjins, en oopsiklusgasturbines (OCGT) is meer gepas, sê Glossop.

Die Gouda-windplaas in die Swartland. Die rol van gaskragstasies kan wees om wisselvallige hernubare krag aan te vul. Foto: Acciona

Trouens, in die laaste IRP was daar géén voorsiening van CCGT-tegnologie nie, sê hy.

Glossop meen planne vir gas-kragopwekking sal eers kan vorder as daar duidelikheid is oor wie die koper gaan wees. As Eskom ontknoop word, kan dit byvoorbeeld die Eskom-transmissiemaatskappy wees.

Dié koper sal boonop die waarde van gas-opwekking in ’n kragstelsel met ’n groot gedeelte hernubare krag moet besef en verstaan dat dit ’n premie op die aankoopprys regverdig, sê Glossop. Buigsame gas-opwekking ontsluit in werklikheid die goedkoop hernubare krag.

Glossop sê Suid-Afrika is eintlik reeds agter met die ontwikkeling van die 1 GW buigsame kragopwekkingsvermoë uit vloeibare aardgas wat volgens die huidige IRP oor vyf jaar beskikbaar moet wees.

Eskom beskik reeds oor twee OCGTs en die departement van energie het nog twee aan private verskaffers uitgekontrakteer.

Dié aanlegte se opwekkingskoste is hoog in vergelyking met die res van die Eskom-vloot, maar hy maak daarop staat om die ligte aan te hou wanneer sy steenkoolkragstasies sukkel.

Meer oor:  Eskom  |  Steenkool  |  Steenkoolkragstasies  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Groenkrag  |  Irp  |  Gas  |  Geïntegreerde Hulpbronplan  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.