Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: Zim-skuld klein teenoor munisipaliteite s’n

Suid-Afrikaanse munisipaliteite en die inwoners van Soweto kan hul koppe in skaamte sak en gaan leer by Zimbabwe se kragmaatskappy.

Die lae watervlakke van die Karibadam weens droogte het die Zambiese kragmaatskappy Zesco genoop om kragopwekking by sy hidrokragstasie daar te sny. Zesco moes toe meer krag van Eskom koop en skuld Eskom nou R89 miljoen. Foto: OPEN ZAMBIA

Zesa, die Zimbabwiese kragmaatskappy, skuld Eskom R322 miljoen, maar het ten minste ’n terugbetalingsplan met Eskom en is tans besig om sy skuld terug te betaal, blyk uit ’n skriftelike antwoord van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, op ’n parlementêre vraag.

Dieselfde kan nie gesê word van plaaslike munisipaliteite wat Eskom eerder hof toe sleep as hy dit durf waag om hul krag af te sny nie.

Gordhan het geantwoord op ’n vraag van Dennis Joseph van die DA oor hoeveel buitelandse regerings en buitelandse private maatskappye deur Eskom van krag voorsien word en wat hulle Eskom skuld.

Teen 19 September was die skuld aan Eskom van dié kragkliënte R632 miljoen, het Gordhan geantwoord. Hoewel dit ’n reusebedrag is, is dit maar 1,58% van die sowat R40 miljard wat Suid-Afrikaanse munisipaliteite en die inwoners van Soweto aan Eskom verskuldig is.

Gordhan gee toe dié geld kan wel minimaal help om Eskom se kontantvloei te help verbeter, en dat Eskom sal seker maak toekomstige kontrakte word so ontwerp dat dit sal keer dat skuld ophoop.

Die Zambiese kragmaatskappy Zesco skuld Eskom R89 miljoen vir krag wat aangekoop is tydens die vorige droogte in Zambië toe sy hidrokragstasies nie genoeg water gehad het om krag op te wek nie.

Ander buitelandse instellings wat agterstallig is met hul kragrekeninge aan Eskom sluit in die Mosambiekse kragmaatskappy Electricidade de Mocambique (EDM) wat R221 miljoen skuld. Eskom help EDM met bystandkrag, maar EDM het finansiële probleme omdat hy ook onafhanklike kragprodusente kontrakteer op ’n vat-of-betaalbeginsel. Dit beteken wanneer EDM nie krag van dié produsente koop nie, moet hy hulle steeds betaal.

Die Zambiese kragmaatskappy Zesco skuld Eskom R89 miljoen vir krag wat aangekoop is tydens die vorige droogte in Zambië toe sy hidrokragstasies nie genoeg water gehad het om krag op te wek nie. Volgens Gordhan skuld Eskom egter ook vir Zesco geld vir ’n energiewanbalans wat ontstaan het uit die bestuur van die streekkragnetwerk. Eskom en Zesco werk tans aan ’n terugbetalingsplan. In totaal is daar tien buitelandse entiteite – regerings of private maatskappye – wat elektrisiteit van Eskom koop, het Gordhan gesê.

Natasha Mazzone, die DA se nuwe hoofsweep, is egter nie tevrede dat Gordhan meen die impak van die skuld van R632 miljoen op Eskom se kontantvloei is minimaal nie. “Die werklikheid is dat elke sent tel wanneer die kragmaatskappy ’n berg skuld van meer as R420 miljard het. ’n Halfmiljardrand is ’n verbasende bedrag geld en kan op die lang termyn baie help om Eskom se geldsake te help stabiliseer,” het sy in ’n verklaring gesê.

Mazzone het wel ook verwys na die skuld van R20 miljard van munisipaliteite, wat Soweto se skuld uitsluit. Sy meen Eskom moet planne beraam om dié agterstallige skuld in te vorder.

Meer oor:  Zesco  |  Eskom  |  Zambië  |  Kragkrisis  |  Skuld  |  Munisipaliteite  |  Buurlande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.