Eskom het aangekondig fase 2-beurtkrag gaan “ongelukkig” Maandag hervat en onbepaald voortduur.
Die kragreus het Donderdag fase 2-beurtkrag ingestel wat tot Sondagnag sou duur.
Sondagmiddag is aangekondig dit word van Maandag 05:00 voortgesit.
Van Sondag 23:00 tot Maandag 05:00 sal fase 1-beurtkrag geld.
Die voortgesette fase 2-beurtkrag word daaraan toegeskryf dat sekere kragstasies se terugkeer tot die lewering van elektrisiteit vertraag is en die noodkragopwekkingsreserwes moet bestuur word.
“Die stelsel bly beperk en kwesbaar en Eskom sal môremiddag ’n verdere opdatering gee oor die situasie,” sê Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom.
Probleme is ondervind om twee kragopwekkingseenhede by die Kusile-kragstasie wat nie verlede week beskikbaar was nie, weer aan te skakel.
“Na verwagting gaan dit môre in diens gestel word.”
Volgens Mantshantsha het Eskom-personeel die afgelope 24 uur ’n kragopwekkingseenheid by die Kriel-, Grootvlei- én Duvha-kragstasies terug in diens gestel.
“Ondanks Eskom se streng maatreëls om die impak van die tweede vlaag van Covid-19-infeksies te bestuur, is daar wel ’n impak op ons bedrywighede, insluitend op dié van ons verskaffers.”
Dit sluit in by die Medupi-kragstasie, waar 48 positiewe gevalle uit ’n poel van 75 kontrakteurs beleef is.
“Dit het ’n negatiewe uitwerking gehad op ons vermoë om die werk te doen wat ons beplan het.”
Tans 6 384 MW elektrisiteit van lyn weens beplande instandhouding, terwyl onbeplande instandhouding weens dié genoemde faktore en die onklaarraking van toerusting 13 181 MW van lyn hou.