Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Firma ontken Eskom betaal hom te veel

Tubular Construction Projects (TCP), een van die maatskappye wat betrek word by bewerings deur Eskom dat hy hulle te veel betaal het, ontken dat hy enige oortollige betalings van Eskom gekry het.

Eskom ondersoek steeds honderde klagtes van bedrog en korrupsie. Foto: Bloomberg

Die maatskappy het Dinsdag by monde van sy regsverteenwoordiger, Luqmaan Hassan van RHK Attorneys at Law, gesê hy het geen sulke betalings van Eskom gekry nie.

TCP het in ’n verklaring verduidelik hy het in Desember 2015 ’n kontrak met Eskom gesluit vir die bou van lugverkoelde kondenseerders vir drie van die kragopwekkingseenhede by die Kusile-steenkoolkragstasie naby Witbank in Mpumalanga.

In ’n verslag wat Eskom vroeër vandeesmaand aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge gestuur het, voer Eskom aan TCP het ’n ingenieursvoorstel ingedien wat met tesourie-goedkeuring gewysig is, maar Eskom het vrae gehad oor of die wysiging enige waarde vir hom gebring het.

TCP voer op sy beurt aan die wysiging was die gevolg van ’n kontrak-eis wat hy ingedien het omdat Eskom nie vorige ooreengekome kontrakte nagekom het nie. Hy het boonop verskeie kontraktuele eise wat hy ingedien het wat nog nie opgelos is nie. Hoewel Eskom suksesvol was met een van die eise deurdat ’n tribunaal in sy guns beslis het en hy R163 miljoen teruggekry het, sê TCP hy behou sy reg ingevolge die kontrak voor om die beslissing vir arbitrasie te verwys.

Eskom het vroeër beweer TCP het in 2012 ’n kontrak by hom gekry vir die bou van ’n watersuiweringsaanleg by Kusile, waar ’n oorbetaling van R450 miljoen ondersoek word. Maar TCP voer volgens Hassan se skrywe aan dié kontrak is nie aan TCP toegeken nie, maar aan ’n gesamentlike onderneming met die naam Tubular Zamani Joint Venture (TZJV), wat nie deel van TCP is nie.

TCP sê wel die kontrak vir die watersuiweringsaanleg was van die begin af vol probleme, met aansienlike veranderings aan die omvang van die werk wat gedoen moes word weens die hersiening van die ontwerp deur die ingenieurs wat Eskom aangestel het. Daar was ook verskeie probleme weens toerusting wat Eskom moes lewer, maar wat te laat afgelewer is.

Dit het tot ’n eis vir tydverlenging gelei. Die koste daarvan is deur Eskom se eie konsultante geoudit. Die eise het ook voor ’n tribunaal beland en daar is ten gunste van TZJV beslis, maar Eskom het nou nog nie sy verpligting ingevolge die beslissing nagekom nie, sê TCP.

Boonop het Eskom teen Januarie vanjaar dié kontrak gekanselleer omdat hy nie die oorblywende materiaal kon voorsien wat nodig was om die projek af te handel nie, voer TCP aan.

Volgens Hassan se skrywe is TCP al in November 2018 deur die staat se spesiale ondersoekeenheid genader en het die maatskappy sy volle samewerking gegee in die eenheid se ondersoek na sy betrokkenheid by Eskom. Hy wou egter nie meer hieroor sê nie omdat die saak sub judice is.

Eskom sê op sy beurt die spesiale ondersoekeenheid is met siviele eise besig, en twee vorige Eskom-amptenare, asook twee ander mense, is al in verband met die saak in hegtenis geneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.