Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Fopnuus! sê Eskom oor Chinese herrie

Eskom spartel om fopnuus op Twitter reg te stel wat impliseer dat die land kragstasies gaan verloor as hy nie sy lening aan ’n Chinese staatsbeheerde instelling kan terugbetaal nie.

Die Twitter-rekening @EximBankChina het Donderdag getwiet dat Eskom vanaf Junie ’n lening van R33,4 miljard oor die volgende 15 jaar moet begin terugbetaal nadat ’n grasietydperk van vyf jaar glo verstryk het.

EximBank verwys na die staatsbeheerde ontwikkelingsinstelling, die Uitvoer-Invoerbank van China, maar die Twitter-rekening is intussen onthul as ’n parodie-rekening, met geen verbintenis aan die werklike Chinese onderneming nie.

Eskom het Vrydagoggend van sy amptelike Twitter-rekening getwiet dat Eskom nié ’n lening van EximBank China het nie: “Pasop vir fopnuus.”

Die oortreder se profiel lyk baie amptelik, maar ’n regstreekse vertaling uit Chinese letters van die rekening se beskrywing lees: “Groep idiote dink dit is die regte rekening van Uitvoer-Invoerbank van China”.

Eskom het wel in 2017 ’n lening van die Chinese Ontwikkelingsbank bekom. Dit beloop nou R33,2 miljoen.

Die lening is oor 15 jaar betaalbaar en sal gebruik word om die Kusile-kragsentrale in Mpumalanga te voltooi. Daar is wel ’n grasietydperk van vyf jaar, maar dit sal eers teen 2022 verval.

Eskom-bates is nie as sekuriteit aangebied indien die skuldverpligtinge nie ten volle nagekom word nie, het Khulu Phasiwe, Eskom-woordvoerder, vroeër ook verseker.

Die lening is deur die staat gewaarborg, dus sal die staat moet betaal as Eskom nie kan nie. Geen kragstasies sal dus aan China gegee word nie.

Meer oor:  Eskom  |  China  |  Fopnuus  |  Staatsondernemings  |  Twitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.