Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Fout by kragstasie lei tot grenslose besoedeling

Toerusting wat besoedeling by Eskom se grootste voltooide steenkoolkragstasie moet beheer, is al sedert vroeg 2018 gebreek.

Electricity pylons stand as emissions rise from th
Eskom se Kendal-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Getty Images

Die toerusting is veronderstel om toksiese partikelvrystellings by die Kendal-steenkoolkragstasie in Mpumalanga te beperk.

Daarna is die toerusting verder in Julie en Augustus 2018 tydens stakings beskadig.

“Die Kendal-kragstasie is besig om met baie hoë hoeveelhede partikelvrystellings bedryf te word,” het Eskom op vrae van Bloomberg gereageer.

Die nutsmaatskappy se onvermoë om uitsonderlik hoë vlakke van besoedeling in veral Mpumalanga hok te slaan, het gelei tot ’n dagvaarding deur omgewingsaktiviste.

Kenners het al beraam dat dié besoedeling tot die regstreekse dood van honderde Suid-Afrikaners lei.

Suid-Afrika se vrystellingsperke is heelwat slapper as dié van selfs Indië of China.

Eskom bedryf en bou 15 steenkoolkragstasies in Suid-Afrika.

Volgens Robyn Hugo, programhoof vir besoedeling en klimaatsverandering by die Sentrum vir Omgewingsregte in Kaapstad, is die vertragings “onaanvaarbaar” om te verseker dat die Kendal-kragstasie voldoen aan besoedelingstandaarde.

“Eskom gee nou al hopeloos te lank net nie om oor die regte van mense wat deur sy roekelose besoedeling geraak word nie,” sê Hugo.

“Ons Grondwet eis dat Eskom binne die perke van die wet moet werk.”

Eskom sê hy het probeer om die toerusting by Kendal te herstel, maar moes toe daarsonder die kragstasie bedryf toe ’n staking sy pogings tot herstelwerk gekniehalter het.

“Dit het daartoe gelei dat beduidende skade aan die kragstasie se stofhantering en elektrostatiese neerslagters aangerig is,” sê die kragverskaffer.

Die stelsels is veronderstel om sogenaamde sweef-as, wat deur die brand van verpoeierde steenkool geproduseer word, vas te vang op plate wat ’n elektrostatiese lading het.

Sonder die bedryf van die stelsels word baie skade aan die kragstasie se opwekkingseenhede aangerig.

“Die skade aan veral eenhede 5 en 6 is beduidend,” sê Eskom.

Kendal beskik oor ses eenhede wat 686 megawatt (MW) kan opwek, altesame tot 4 116 MW.

Die kragreus sê kort tydperke waartydens hy die eenhede kon afskakel, het ’n bietjie tydelike instandhouding moontlik gemaak.

’n Lang tydperk waar die eenhede afgeskakel sal wees later vanjaar sal wel toelaat dat herstelwerk aan eenheid 5 teen ’n koste van R50 miljoen voltooi kan word.

Kendal was toe hy in 1994 in werking getree het die grootste lugverkoelde steenkoolkragstasie ter wêreld.

Wanneer die steenkoolkragstasies Medupi en Kusile (4 800 MW elk) voltooi word, sal hulle Kendal oorskadu. – Bloomberg

Meer oor:  Eskom  |  Besoedeling  |  Koolstof  |  Steenkoolkragstasies  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.