Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Gas of batterye - wie gaan wen?

Batterytegnologie verbeter so vinnig dat teen die tyd dat Suid-Afrika genoeg aardgas op groot skaal vir kragopwekking kan gebruik, batterytegnologie dit reeds sou inhaal in kostedoeltreffendheid.

ABB
Die Duitse ingenieursgroep ABB se fabriek in Duitsland wat elektrisiteit kry van ’n sonkrag-en-batterystelsel.Foto: ABB

Só glo dr. Kilian Hagemann, medestigter en besturende direkteur van die windplaasontwikkelaar G7 Renewables.

Hy glo die vooruitsigte om Suid-Afrika se eie gasbronne te ontwikkel is te ver in die toekoms, terwyl batterystelsels daagliks beter en goedkoper word.

Hagemann het in ’n onderhoud tydens die Africa Utility Week in Kaapstad gesê dit is batterytegnologie wat ’n kragnetwerk sal moontlik maak wat 100% deur hernubare energie aangedryf word.

Batterye kan enige plek op die kragnetwerk geplaas word, en kan in modules bygevoeg word soos wat dit benodig word, wat dit baie buigsaam maak.

In Suid-Afrika kan windkrag se bydrae tot die totale kragvraag teen 2050 op sowat 40% stabiliseer, verwag Hagemann.

Hy verwag nie dat windkrag aan meer as 50% van die land se kragvraag sal kan voorsien nie.

Eskom se verdeling

Die plan van die regering om Eskom in drie afsonderlike entiteite - kragopwekking, transmissie en distribusie - te verdeel is volgens Hagemann die beste ding wat met die hernubare-energiebedryf kan gebeur.

Tot dusver kon die transmissie-afdeling nie geld bestee om kragnetwerke op te knap nie, want voordat hulle hul begroting kan bestee word dit weggeraap om aan die kragopwekkingskant bestee te word. As die drie entiteite afsonderlik hul eie begrotings bestuur sal die geld beter aangewend kan word sodat die kragnetwerk beter opgeknap kan word, wat meer groenkrag-konneksies sal moontlik maak.

Oor die uitdagings vir die kragnetwerk as groeiende hoeveelhede krag van wisselvallige bronne soos wind- en sonkrag opgelaai word, is Hagemann vol vertroue dat Eskom die nodige kundigheid het om die kragnetwerk reg te bestuur.

Volgens hom het Eskom in die vorm van byvoorbeeld die nuwe Ingula pompopgaarskema genoeg buigsame kragopwekkingsvermoë om die wisselvallige bydraes van onafhanklike kragprodusente te bestuur.

Klimaatmodelle en weervoorspellingstegnologie verbeter boonop jaarliks, sodat netwerkoperateurs al meer akkurate vooruitskattings kan doen oor hoeveel hernubare energie op pad is na die kragnetwerk.

Teenoor Brittanje en Duitsland wat reeds besig is om hul steenkoolkragstasies uit te faseer, is Suid-Afrika wat hernubare energie betref in ’n baie beter posisie as hulle danksy oorvloedige sonskyn en beter wind.

Die Duitse ingenieursgroep ABB het juis die afgelope week sy eerste fabriek bekend gestel wat sy eie krag opwek. Dit kry krag van ’n reeks fotovoltaïese sonpanele, gerugsteun deur ’n batterystelsel.

Meer oor:  Eskom  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Gas  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.