Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Gauteng se kragnetwerk ‘op rand van ingee’

Koue weer en ’n oormaat onwettige verbindings aan die kragnetwerk is besig om die Gautengse kragnetwerk tot die uiterste te beproef, en Eskom waarsku dat hy drastiese stappe moet doen.

Die kragnetwerk in Gauteng is besig om in te gee weens onwettige kragverbruik wat tot ’n gevaarlike oorlading van die stelsel lei. Foto: Getty Images

Eskom sê Woensdag in ’n verklaring die ganse kragnetwerk in Gauteng is besig om oorlaai te word.

“Eskom in Gauteng het met kommer van ’n beduidende toename in oorlading van die kragnetwerk weens onwettige aktiwiteite in digbevolkte gebiede oor die provinsie heen kennis geneem,” sê die kragreus.

Volgens Eskom kom “beduidende” hoë energieverbruik gedurende die spitstye van 05:00 tot 09:00 en weer van 17:00 tot 22:00 voor, en die kragnetwerk is besig om onder die las in te gee.

Dié toedrag van sake word hoofsaaklik aan onwettige kragverbruik toegeskryf.

Eskom verduidelik dat onwettige verbindings aan die kragnetwerk, mense wat krag koop by sogenaamde ghost vendors asook ongeregistreerde ondernemings nou so baie krag verbruik dat die stelsel nie daarvoor voorsiening kan maak nie.

Kragnetwerke word ontwerp om ’n baie spesifieke lading te kan hanteer.

Dit word bepaal deur te bereken hoeveel elke verbruiker gemiddeld sal verbruik en dan daarvoor voorsiening te maak.

Wanneer onwettige verbindings of ’n gepeuter met kragmeters in gemeenskappe posvat, is die infrastruktuur bloot nie in staat om aan die oormaat-vraag te voldoen nie.

Eskom bestee elke jaar miljarde rande aan transformators en mini-substasies wat weens oorlading as gevolg van onwettige kragverbruik opblaas.

Volgens Eskom sal hy nou sy omstrede toepassing van ladingsvermindering moet uitbrei. Dit is om die kragnetwerk teen ineenstorting te beskerm.

Ladingsvermindering is wanneer Eskom gedurende spitstye sekere digbevolkte gebiede se krag bloot afsny omdat daar soveel onwettige verbindings in dié gebiede is.

Hy pas dit reeds daagliks in vyf provinsies toe, maar het voorheen aan Netwerk24 gesê dat dit hoofsaaklik beperk word tot informele nedersettings waar die probleem van kragdiefstal die grootste is.

Nou sê Eskom hy gaan die toepassing van ladingsvermindering in Gauteng moet uitbrei.

Hy gaan ook begin om alle nie-betalende verbruikers van die kragnetwerk te ontkoppel.

Dit is sy laaste poging om die stabiliteit van die provinsie se kragnetwerk te beskerm.

Eskom doen ’n beroep op gemeenskappe om onwettige kragverbruik te staak sodat diegene wat steel nie die ganse gemeenskap se kragtoevoer bedreig nie.

Eskom het nie meer ander opsies as om ladingsvermindering toe te pas nie, anders bedreig die oorlading die hele provinsie se krag.

Meer oor:  Eskom  |  Beurtkrag  |  Krag  |  Kragnetwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.