Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Gee jou kar gas – die voordele is legio

Sowat 1 200 minibustaxi’s in Johannesburg gebruik deesdae gas as brandstof, en die verskaffers van dié gas meen al hoe meer kommersiële voertuie sal in die toekoms op gas eerder as diesel of petrol ry.

Simon Malevu, ’n werknemer by NGV Gas, deel van CNG Holdings, se vulstasie waar voertuie met aardgas as alternatiewe brandstof gevul word. Foto: Deon Raath

Die koolstofbelasting wat op 1 Junie ingestel is, het belangstelling in saamgeperste aardgas as alternatief vir brandstof ’n stewige hupstoot gegee, sê Wayne Williams, bemarkingsbestuurder van die beheerrmaatskappy CNG Holdings.

CNG se afdeling vir voertuigbrandstof, NGV Gas, kry sy gas van Egoli Gas.

Vir sy kliënte gaan dit nie net oor skoner energie nie, maar ook oor mededingende pryse vergeleke met diesel, paraffien en op lang termyn ook steenkool.

Wayne Williams, bemarkingsbestuuder van CNG Holdings. Foto: Deon Raath

Saamgeperste aardgas kan voertuie wat maandeliks baie kilometers aflê, se brandstofrekening halveer, sê Williams. Afgesien van taxi’s is sowat 150 vlootvoertuie (soos vragmotors en afleweringsvoertuie) in die provinsie reeds aangepas om aardgas as brandstof te gebruik.

Gauteng het meer as 830 000 ligte afleweringsvoertuie waarvoor gas ’n koste-doeltreffende opsie kan wees, sê Williams.

CNG is ook in gesprek met voertuigvervaardigers oor die invoer van voertuie wat gas as brandstof gebruik en wat reeds in ander wêrelddele verkoop word. Die aardgas word op CNG se perseel in Langlaagte in spesiale silinders saamgepers en dan per pad na kliën­te vervoer.

Die silinder met die natuurlike gas word gewoonlik onder die agterste sitplek in minibustaxi’s ingebou en in die kattebak van sedanmotors. Foto: Deon Raath

Die voertuie word teen ’n koste van sowat R26 000 aangepas om dié silinders te gebruik. Die silinder pas in ’n taxi gewoonlik onder die agterste sitplek en in ’n sedanmotor in die kattebak.

Geen meganiese veranderinge word aan die voertuig aangebruik nie en hy behou sy konvensionele brandstoftenk, want hy gebruik steeds ’n klein hoeveelheid petrol of diesel wanneer die enjin aangeskakel word. As die gas opgebruik is, ry die voertuig steeds met petrol of diesel.

Dié monitor wys, soos ’n brandstofmeter, hoeveel gas die taxi nog het. Indien die gas opraak, sal die voertuig oorskakel na petrol. Foto: Deon Raath

Saamgeperste gas kos R9,99 per liter teenoor sowat R16 per liter vir 95-oktaan-petrol en meer as R14 vir diesel.

CNG bereken ’n voertuig wat 5 000 km per maand aflê (soos taxi’s en afleweringsvoertuie), kan deur die brandstofbesparing binne sowat sewe maande die aanpassing se koste verhaal.

CNG het sy eie gas-vulstasie in Langlaagte, Johannesburg, asook gaspompe by vier ander vulstasies in Johannesburg en Pretoria. Binnekort sal nog vier vulstasies van die pompe kry.

Williams sê aardgas is ’n baie veilige brandstof. Dit hoef nie ondergronds gestoor te word nie, het ’n baie hoë ontbrandingspunt en is nie giftig nie.

Wayne Williams (regs), bemarkingsbestuuder van CNG Holdings, en Glenn Endres, projekbeplanner, wat onder meer sorg dat alle kliënte se voorraad betyds afgelewer word. Foto: Deon Raath

Omdat dit ligter as lug is, verdamp dit gou sou ’n lekkasie voorkom, eerder as om op die grond op te dam.

Gas word ook toenemend aantreklik vir ander energiegebruikers. Tien staatshospitale in Gauteng het hul warmwaterketels van steenkool-energie na aardgas omgeskakel om geld te spaar en besoedeling teen te werk.

Williams sê steenkool kos wel sowat 33% van die prys van aardgas – wat op sy beurt net die helfte van die prys van vloeibare petro­leumgas (VPG) behels – maar as die koste uitgeskakel word van onderhoud wat met steenkoolverbranding verband hou, is aardgas op lang termyn goedkoper.

In die agt jaar wat NGV gas voorsien, was daar nog geen prysverhoging nie, sê Williams, omdat die prys van aardgas baie stabiel bly en nie wissel soos LPG wat verband hou met die prys van ruolie nie.

Simon Malevu, ’n werknemer by NGV Gas, deel van CNG Holdings, se vulstasie waar voertuie met aardgas as alternatiewe brandstof gevul word. Foto: Deon Raath
Dié monitor wys, soos ’n brandstofmeter, hoeveel gas die taxi nog het. Indien die gas opraak, sal die voertuig oorskakel na petrol. Foto: Deon Raath
Wayne Williams, bemarkingsbestuuder van CNG Holdings. Foto: Deon Raath
Wayne Williams (regs), bemarkingsbestuuder van CNG Holdings, en Glenn Endres, projekbeplanner, wat onder meer sorg dat alle kliënte se voorraad betyds afgelewer word. Foto: Deon Raath
Die silinder met die natuurlike gas word gewoonlik onder die agterste sitplek in minibustaxi’s ingebou en in die kattebak van sedanmotors. Foto: Deon Raath
Meer oor:  Petrol  |  Brandstof  |  Gas  |  Diesel  |  Aardgas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.