Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Werkers betaal vir Eskom-wanbestuur’

Eskom se salarisonderhandelings het ’n dooie punt bereik nadat die maatskappy ’n finale loonverhogingsaanbod van 1,5%, gekoppel aan ’n verandering in diensvoorwaardes, aan vakbonde voorgelê het.

Gideon Du Plessis
Gideon Du Plessis. Foto: Verksaf

Tydens hierdie onderhandelings mag daar nie gestaak word nie omrede Eskom tot noodsaaklike diens verklaar is, wat beteken die arbitrasieroete is deel van die geskilproses.

As vorige jare se gebeure as verwysing kan dien, is dit nou die punt waar die populistiese National Union of Mineworkers (Num) en die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) kragsentrales gaan begin ontwrig en sal poog om Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, by die onderhandelings te betrek.

Tydens die 2018-onderhandelings was ’n onbeskermde staking dié twee vakbonde se reaksie toe ’n 0%-verhoging op die tafel was. Die ontwrigting was só groot dat Gordhan ingestem het tot ’n 7%-verhoging.

Aan die begin van vanjaar se onderhandelings het die openbare mening vroeg teen die vakbonde gedraai weens die Num en Numsa se eis vir ’n verhoging van 15%.

Die publiek se reaksie is te verstane, maar daar moet in gedagte gehou word dat die verouderde posisionering-onderhandelingsmodel toegepas word waarin vakbonde met onrealistiese hoë eise begin en werkgewers ’n onrealistiese lae openingsaanbod maak. Daar word selde naby ’n vakbond se openingseis geskik, hoewel die eis tog vir goeie koerantopskrifte sorg.

Eskom kon die openbare mening ook beïnvloed deur aan te dui dat die gemiddelde Eskom-werknemer R737 000 per jaar verdien. Die Num en Numsa se reaksie was ’n feiteregstelling en hulle het daarop gewys dat hulle slegs namens werknemers onderhandel wat binne die sogenaamde bedingingseenheid val (wat bestuursposte uitsluit), en dat die salarisskale van daardie groep tussen R175 000 en R651 000 per jaar is. As R737 000 wel die gemiddelde salaris is, moet die senior en topbestuur dus baie geld verdien om die gemiddelde so hoog te maak.

Eskom is met die rug teen die muur en hy verwag om in hierdie geldjaar ’n verlies van nagenoeg R15,1 miljard te ly, terwyl hy met 'n skuldlas van meer as R400 miljard sit. Dit is 'n maatskappy wat bankrot is en meer gereeld beurtkrag toepas, terwyl elektrisiteit duurder word. Dit moet vir seker moeilik wees om te verstaan waarom Eskom-werkers nog ’n verhoging wil hê.

Dit is egter belangrik om te besef dat Eskom in dié benarde situasie is weens grootskaalse korrupsie; swak regeringsbeplanning; wanbestuur; die ondeurdagte toepassing van regstellende aksie en gepaardgaande verlies van vaardighede; en die regerende party, wat toegesien het dat daar nie teen wanbetaling deur vele munisipaliteite en veral Soweto opgetree word nie omrede dit belangrike steunareas tydens verkiesings is. Die werkers in die bedingingseenheid het geen aandeel in al die bogenoemde nie.

Duma Gqubule, 'n ekonoom en direkteur van die sentrum vir ekonomiese ontwikkeling en transformasie, voeg by dat Eskom se personeeluitgawes as persentasie van sy omset sedert 2007 gedaal het van 23,6% tot 16,5% in 2020.

Dit is die enigste item op Eskom se inkomstestaat wat afgeneem het, terwyl sy primêre energiekoste in dieselfde tydperk met 860% toegeneem het. Wat laasgenoemde betref, kan Eskom die regering die skuld gee.

Volgens Eskom se laaste finansiële state moes hy in 2019 onafhanklike kragprodusente (IPP’s) R2 223 per megawatt-uur betaal, wat in 2020 tot R2 314 verhoog is, terwyl Eskom sy eie krag teen R385 per megawatt-uur opwek.

Eskom moet ook vir al die krag betaal wat die IPP’s opwek, of Eskom dit nodig het of nie. Die regering is dus net so aandadig daaraan dat Eskom nie uit sy skuldstrik kan kom nie.

Met die Num en Numsa wat wedywer om beheer van die onderhandelings oor te neem en die Num se hoofonderhandelaar wat later vanjaar as die Num se hoofsekretaris verkies wil word, word onrealistiese verwagtings wel by werkers geskep, wat ’n moeilike onderhandelingsproses verder bemoeilik.

Gegewe die stand van Eskom en die dinamika van salarisonderhandelings kan die publiek vir populistiese vakbonde én Eskom kwaad wees, maar die werkers kan ook kwaad wees vir Eskom, want hulle en hul afhanklikes betaal ’n duur prys vir ander mense se korrupsie en wanbestuur.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.