Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Glencore wil skik oor strategiese olie

Die internasionale myngroep Glencore en die Strategiese Brandstoffonds (SFF) het ’n ooreenkoms bereik om te skik oor drie miljoen vate olie van Suid-Afrika se strategiese olievoorraad van tien miljoen vate wat verkoop is.

Die hoofkantoor van Glencore in Switserland. Foto: REUTERS

Glencore en die SFF het ’n konsepbevel opgestel en wil hê regter Owen Rogers moet voor 15 Oktober daaroor besluit. Glencore wil teen daardie datum sy geld plus rente terughê in ruil vir die olie wat hy aan die SFF sal teruggee.

Rogers het Woensdag in ’n aanlyn sitting van die hooggeregshof in Kaapstad gesê hy sal daaroor besluit as hy die finale uitspraak in die saak lewer.

Die SFF is in die hof om die olie terug te kry wat in Desember 2015 en Januarie 2016 aan drie verskillende oliehandelaars verkoop is, sonder die nodige goedkeuring van die nasionale tesourie, en teen veel minder as die heersende markprys.

Glencore is betrek omdat hy die olie oorgekoop het van Venus, ’n tussenganger wat oorspronklik regstreeks met die SFF oor die koop van die olie onderhandel het.

Glencore en die SFF het voorlopig ooreengekom dat die SFF die koopprys sal terugbetaal van sowat $90,2 miljoen asook die stoorgeld van $7,4 miljoen, plus rente teen 1,81% op dié bedrae. Die rentekoers is volgens adv. Arnold Subel, wat namens Glencore optree, gelykstaande aan die koers wat die SFF self op die dollarbedrae verdien het sedert die transaksie beklink is.

Die ander kopers van die olie was Taleveras, ’n oliehandelaar wat ook sy olie aan sy finansier, ’n firma genaamd Contango, verkoop het, en Vitol, ’n meer bekende internasionale oliehandelaar.

Adv. Wim Trengove het Woensdag namens Vitol aangevoer die SFF maak asof dit net een vrot appel in die SFF is wat tot die omstrede transaksie gelei het, terwyl dit volgens hom die hele instelling, van die minister tot die direksie en die bestuur was wat korrup, bedrieglik en roekeloos opgetree het.

Trengove het beklemtoon die staat moet aanspreeklikheid aanvaar vir die transaksie. Volgens hom het Vitol te alle tye ter goeder trou opgetree.

Vitol was gereed om op 23 Desember 2015 die kontrak te sluit om drie miljoen vate olie by die SFF te koop. Die Brent-ruolieprys was op daardie dag $40 per vat. Die SFF het egter sy voete gesleep en toe die kontrak eers ’n maand later op 20 Januarie 2016 gesluit is, het die olieprys al met sowat $10 per vat geval. Hy het dus die bewering ontken dat dit die oliehandelaars was wat die SFF gemanipuleer het om die olie teen spotgoedkoop pryse te koop. Dit was eerder weens die SFF se eie vertraging.

Meer oor:  Sff  |  Strategiese Brandstoffonds  |  Brandstof  |  Oliereserwes  |  Olie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.