Eskom sê die aanloop tot die nasionale staat van inperking het reeds Donderdagmiddag beteken duisende megawatt (MW) minder krag was in aanvraag, en geen beurtkrag word dus vir die duur van die tyd van inperking verwag nie.

Eskom se onvoltooide Kusile-steenkoolkragstasie in Mpumalanga. Foto: Getty Images
In sy jongste verklaring sê die nutsmaatskappy 6 000 MW minder krag was Donderdagmiddag in aanvraag as gewoonlik.
Dit was ook nog voordat sluitings van nywerhede en ondernemings werklik in werking tree.
Eskom verwag dus nog ’n groter besparing in kragverbruik soos wat die staat van inperking inwerking kom, en sê dis nou amptelik dat geen beurtkrag vir die ganse duur van die staat van inperking verwag word nie.
Die kragreus verduidelik wel dat baie van sy werknemers vir die volgende drie weke by die huis gaan bly.
Dit beteken hy gaan nie op so ’n groot skaal as hy wil instandhoudingswerk kan doen nie.
Eskom het in Januarie aangekondig hy het ’n nuwe benadering tot beurtkrag wat instandhouding prioritiseer om die langtermyn volhoubaarheid van sy kragstasies te verseker. Dié benadering word egter nou tydelik weens ’n tekort aan werknemers gestaak en slegs korttermyn instandhouding sal gedoen word.
Die verlies aan opwekkingsvermoë weens onbeplande foute was Donderdag op een van die laagste vlakke sedert November met slegs 9 116 MW wat onbeskikbaar was.