Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Goed en sleg in Cosatu se Eskom-voorstelle
Eskom se vlag wapper langs die landsvlag. Foto: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images

’n Fyner kam deur die vakverbond Cosatu se voorgestelde plan om Eskom se skuldlas te verlig wys ’n paar sinvolle voorstelle, maar ook voorstelle wat regtig nie ’n goeie idee is nie.

Hier volg ’n bondige ontleding van die voorstelle.

Belegging in Eskom deur die Openbare Beleggingskorporasie, die staat, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa), die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK), asook ander ontwikkelingsfinansieringsinstellings.

Die idee om onderwysers, polisiebeamptes en gesondheidswerkers se aftreespaargeld te vat en dit te gebruik om Eskom se skuld te verminder, is net gewoon sleg. Die vakbond Solidariteit en die Vereniging van Staatsamptenare dreig reeds met regstappe, so hierdie deel van Cosatu se plan gaan geld en tyd kos in die vorm van duur advokate en weke in die hof. Dit is ook uiters onverantwoordelik uit ’n beleggingsoogpunt.

Belegging deur Obsa en die NOK in Eskom kan dalk werk, want dit pas meer in by hul mandate, en hulle is instellings wat meer gerat is vir sulke soort risiko. Selfs die Afrika-Ontwikkelingsbank of die Brics-bank kan genader word, want die hele Suider-Afrika sal ly as Eskom inplof en sal daarby baat as Eskom gesond word.

Cosatu se ononderhandelbare voorwaardes is dat geen Eskom-werker afgelê mag word nie en Eskom nie geprivatiseer word nie.

Cosatu het die ANC-regering aan die kort hare beet, so hierdie voorwaardes sal waarskynlik geld. Maar vanuit ’n vryemarkoogpunt is dit dwaas. Die Wêreldbank meen Eskom het 16 000 te veel werkers. Baie van hulle is met bedrog en korrupsie doenig, en van hulle is bereid om hul werkgewer se infrastruktuur te saboteer en te vernietig, soos gesien is in verlede jaar se gewelddadige staking. Eskom het nie sulke mense in sy diens nodig nie. Hulle moet loop. Die DA kan skree tot hy . . . um . . . blou is, maar die regering sal Eskom nooit privatiseer nie.

Maar ’n gedeeltelike verskuilde privatisering om private kundigheid, kapitaal en mededinging in te bring sou sin maak. Noem dit net iets anders, vermy die p-woord tot elke prys.

Cosatu stel wel voor dat mense wat korrupsie gepleeg het in hegtenis geneem, vervolg en tronk toe gestuur word, soos Eskom-bestuurders wat korrupte en onwettige tenders by Eskom het.

Dit is ’n uitstekende voorstel wat net vinniger uitgevoer moet word.

Cosatu soek werkerverteenwoordiging in die Eskom-direksie, en ’n toegewyde eenheid wat onwettige kragaansluitings bestry en die oortreders vang.

Arbeidsverteenwoordiging in die direksie is gaaf en progressief, solank die persone Eskom se beste belange op die hart dra en nie net gedurig ’n sosialistiese struikelblok vir moeilike, ongewilde maar noodsaaklike bedryfsbesluite word nie.

Die idee van ’n eenheid wat onwettige kragaansluitings sal beveg is ’n blink gedagte, maar in alle erns sal dit ’n bekwame en gewapende eenheid moet wees met opleiding soortgelyk aan ’n Recce-eenheid, die Britse SAS of die Amerikaanse spesmagte.

Cosatu wil hê steenkoolverskaffers se pryse moet gesny word, en steenkoolgehalte moet verbeter.

Die ekonoom Mike Schüssler wys ook op die skerp plaaslike stygings in steenkoolpryse oor die afgelope dekade teenoor veel laer internasionale pryse. ’n Taakspan van die departemente van minerale bronne en energie, en van handel en nywerheid moet hier ingryp en steenkoolkontrakteurs dwing om kontrakte te hersien en billike, etiese pryse te vra.

Om Eskom se inkomste te verbeter, wil Cosatu hê alle kragaankope moet voorafbetaald wees, insluitende aankope deur die regering, staatsondernemings, munisipaliteite en die sakesektor.

Uitstekende plan. Wat goed is vir huishoudings is goed vir die res. Dit sal ook ’n ekstra hupstoot gee vir die vervaardigers van slimkragmeters, en dit is ’n bedryf waarin Suid-Afrikaanse tegnologiemaatskappye nogal wêreldklas-produkte lewer.

Om Eskom te help om munisipaliteite en ander se skuld van meer as R30 miljard in te samel stel Cosatu voor die nasionale tesourie moet sommer die skuld van die instellings se begrotings aftrek en aan Eskom oorbetaal.

Dit sal baie ongewild wees, maar is dalk die regte, slegte medisyne. Baie staatsdepartemente bestee in elk geval nie hul volle begrotings nie weens swak beplanning en swak vermoë. Maar die staatskas se toedelings aan plaaslike regerings word reeds verklein weens die druk op die begroting, so daar is nie veel om van te sny nie, terwyl dit baie munisipaliteite net dieper in die skuld sal laat sink.

Cosatu stel ’n massiewe Masakhane-betaalveldtog in sekere gebiede voor.

Dis ironies dat Cosatu dit nou voorstel terwyl hy self as deel van die breë bevrydingstryd dekades gelede die saad geplant het vir die kultuur van niebetaling. Die sondes van die Cosatu-vaders het hulle nou ingehaal. Maar ja, sterkte daarmee, veral in Soweto.

Cosatu wil Eskom se tariefverhogings hokgeslaan hê, en die kwota gratis krag vir arm huishouding groter maak.

Dié populisme is te wagte, maar die realiteit is dat Suid-Afrikaners wel dekades lank werklik te min vir elektrisiteit betaal het, en die afgelope jare se verhogings was nodig om dit nader te bring aan ekonomiese werklikhede. As instrument om doeltreffendheid en ’n laekoolstofekonomie aan te spoor, is kragtariewe strategies belangrik. ’n Fyn balans is nodig, want Eskom se ondoeltreffendheid moet ook nie beloon word met skerp tariefstygings nie.

Cosatu stel belegging in batterytegnologie voor om elektrisiteit van hernubare energie te kan opgaar, maar hy stel ook voor bestaande kragstasies wat op pad is om te sluit moet na gas oorskakel of hul leeftyd moet verleng word.

Belegging in batterye moes al lankal gebeur het want batterytegnologie verbeter daagliks en gaan die deurslag gee vir ’n toekoms met al meer hernubare energie in die stelsel.

Die idee om bestaande steenkoolkragstasies se lewe te verleng of na gas oor te skakel is egter ’n bietjie onkundig en naïef. Die ou kragstasies van Eskom is al so oud dat dit bykans soveel as ’n nuwe kragstasie sal kos om hul leeftyd te verleng. Aardgas is wel beter en goedkoper, maar die aardgas moet tot daar kom en dit verg belegging in pypleidinginfrastruktuur en toegang tot ’n bekostigbare en reusebron van aardgas. Die naaste aardgasreserwes is in die diepsee aan die Mosambiekse kus en gaan eers oor vier of vyf jaar ontgin word.

Cosatu wil hê elektriese motors moet plaaslik vervaardig word, en alle geboue moet plaaslik vervaardigde sonpanele kry. Alle kragmeters moet plaaslik vervaardig word.

Dis alles goed, maar tragies dat Suid-Afrikaans-vervaardigde elektriese voertuie reeds ’n realiteit kon gewees het as die regering nie ’n paar jaar gelede die Joule-projek se geldkraantjie toegedraai het nie. Was dit nie vir die regering se rondvallery oor sy groenkragprogram nie, sou hier reeds meer lewensvatbare sonpaneelvervaardigers gewees het. Maar baie van hulle het opgepak en geloop weens wisselvallige regeringsbeleid.

Meer oor:  Eskom  |  Kragvoorsiening  |  Staatsondernemings  |  Skuld  |  Cosatu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.