Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Gordhan wil ‘binne 24 uur’ met Eskom vergader

Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, beplan om “binne die volgende 24 uur” met Eskom se bestuur en direksie te vergader oor stappe om groter sekerheid aan Suid-Afrikaners oor kragvoorsiening te gee.

Pravin Gordhan Foto: Felix Dlangamandla

Só het Adrian Lackay, Gordhan se woordvoerder, Sondag by navraag gesê.

Dit volg nadat beurtkrag Sondag sedert Desember laas skielik weer ingestel is. Boonop kon Eskom nie waarborg dat hy genoeg krag vir die komende week sal kan voorsien nie.

Die kragreus het Sondagmiddag ’n verklaring uitgereik waarin hy aangedui het dat fase 2-beurtkrag noodgedwonge ingestel moet word omdat hy sukkel om genoeg krag op te wek. Beurtkrag is vanaf 13:00 ingestel en sou na verwagting tot 22:00 aanhou.

Lackay het ook gesê terwyl Eskom aangedui het dat die herstel van sy opwekkingskapasiteit ’n ruk sal neem, was die verwagting dat die Eskom-span in staat sou wees om die noodsaaklike instandhouding en herstelwerk gedurende die Kerstyd te kon doen sodat daar voldoende opwekkingskapasiteit sou wees om beurtkrag aan die begin van 2019 te voorkom.

“Probleme met die nuwe kragstasies en hul voortgesette onvermoë om na verwagting te presteer en ander onbeplande onderbrekings het ongelukkig tot die jongste beurtkrag gelei.

“Die minister sal binne die volgende 24 uur met die Eskom-bestuur en -direksie vergader om te bepaal watter ander stappe gedoen kan word om Suid-Afrikaners groter sekerheid oor kragvoorsiening te gee,” het Lackay gesê.

Eskom het aangedui dat beurtkrag skielik weer ingestel moes word sodat noodsaaklike voorbereidingswerk gedoen kan word om verdere kragonderbrekings deur die loop van die week te probeer voorkom.

Staatsrede

Die jongste beurtkrag volg kort nadat pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in sy staatsrede aangekondig het dat Eskom in drie verdeel sal word. Ramaphosa het toe ook gesê dat Eskom se koste dringend verminder moet word.

“Eskom is in ’n krisis en die risiko’s wat dit vir Suid-Afrika skep, is enorm. Dit kan ons ambisies vir die ekonomie en maatskaplike ontwikkeling ernstig skaad,” het Ramaphosa gesê.

Andrew Etzinger, senior bestuurder van opwekking by die kragvoorsiener, het Sondag verduidelik dat twee faktore dorings in Eskom se vlees blyk te wees.

Eerstens is bykomende dieselkragopwekkers die laaste weke op groot skaal gebruik en moet dit nou dringend versien word. Dié kragopwekkers moes Sondag “aansienlike instandhouding” ondergaan en dieselvoorraad moes ook aangevul word sodat daar genoeg opwekkingskapasiteit vir die komende week kan wees.

Eskom is in ’n krisis en die risiko’s wat dit vir Suid-Afrika skep, is enorm. Dit kan ons ambisies vir die ekonomie en maatskaplike ontwikkeling ernstig skaad.
Cyril Ramaphosa

Tweedens was bykomende elektrisiteit Sondag nodig om waterpompe te laat loop om belangrike hidroëlektriese damme vol te maak.

Volgens Etzinger word dié pompe net gewoonlik buite spitstyd aangeskakel om water van laerliggende gebiede na damme te pomp sodat dit weer deur ’n kragopwekkende turbine kan vloei wanneer die vraag na elektrisiteit hoog is. Dié pompe is Sondag aangeskakel om te verseker dat die damme Maandag vol genoeg sal wees om krag te kan opwek.

Die kragnetwerk is ook onder druk, wat waarskynlik vir die komende week gaan voortduur, het Etzinger gesê.

“Hoe ver ons oor die volgende 24 uur vorder, sal bepalend wees van of daar beurtkrag deur die week toegepas gaan word.”

Al het die ligte gedurende die Kerstyd aangebly, het Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, kort voor Kersfees gewaarsku dat beurtkrag waarskynlik weer vroeg in die nuwe jaar toegepas sou word. Eskom is kniediep in die skuld en verkoop nie genoeg krag om sy bedryfskoste te dek nie. Eskom se skuld beloop sowat R419 miljard, waarvan net R260 miljard deur die staat gewaarborg word. Eskom moet vir die lopende boekjaar R72 miljard iewers leen.

Natasha Mazzone, ’n DA-LP, het die situasie as “onaanvaarbaar” bestempel en gesê beurtkrag is ’n aanduiding van die onvolhoubare monopolie wat Eskom oor kragvoorsiening het. Hul “wurggreep” oor die land se ekonomie moet verbreek word.

Kragonderbrekings

Beurtkrag moet by die naam genoem word, naamlik kragonderbrekings, het Mazzone gesê.

“Dit is ’n onaanvaarbare toedrag van sake gegewe die waarskuwings van kundiges wat vroeër daar was.

“Eskom het die vermoë om die land se ekonomie te vernietig en totdat diegene wat aanspreeklik is vir die korrupsie in die staat agter tralies is, kan ons nie rus nie,” het Mazzone gesê.

Kenners het vroeër gewaarsku dat die kragverskaffer die bron van sy inkomste toenemend wegdryf. Neil Gopal, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging (Sapoa), het in Januarie in Johannesburg op ’n konferensie met Herman Mashaba, die uitvoerende burgemeester van Johannesburg, gepraat oor hoe beurtkrag die bron van Eskom se inkomste wegdryf.

Alternatiewe

Gopal meen dat, buiten die hoër tariewe waarvoor Eskom vra wat ’n rampspoedige effek op sakeondernemings sal hê, is beurtkrag self reeds besig om besighede en beleggers te dwing om alternatiewe te kry.

“Eiendomseienaars skuif toenemend hul portefeuljes oorsee, want dit is net nie volhoubaar om hier te belê in eiendomme wat besighede ondersteun wat nie hul sake volhoubaar kan bedryf nie.”

Gopal sê duur en onbetroubare elektrisiteit lei nie net tot eiendomseienaars wat sukkel weens hul verhuurders se probleme nie, maar die koste word uiteindelik oorgedra na die verbruiker en die ekonomie in die geheel.

“Beleggers op wie ons hier so staatmaak, sal ’n hoër opbrengs kry deur net die geld in die bank te sit.”

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad van Suid-Afrika, sê Eskom dra daadwerklik daartoe by dat sy mynboukliënte kwyn, wat tot nog minder inkomste vir die nutsmaatskappy lei.

Meer oor:  Eskom  |  Adrian Lackay  |  Natasha Mazzone  |  Pravin Gordhan  |  Kragvoorsiening  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.