Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Groenes juig oor Cyril wet op koolstoftaks teken
Die koolstofbelasting is bedoel om maatskappye aan te moedig om meer in hernieubare energie te belê. Van links is Aniqa Misbach, assistentkonstruksieprojekbestuurder van die Perdekraal-Oos-windplaas, Francis Jackson, projekbestuurder by GreenCape, en Christo Loots, konstruksieprogrambestuurder van die Kangnas- en Perdekraal-Oos-windplase. Hulle staan by komponente van windturbines by die GRI-fabriek in Atlantis waar die torings vir windturbines vervaardig word.

Die omgewingsorganisasie WWF Suid-Afrika het pres. Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Wet op Koolstofbelasting verwelkom, maar sien uit na nog strenger optrede van die regering.

Ramaphosa het verlede week die wet amptelik onderteken en dit is in 23 Mei se Staatskoerant gepubliseer.

Dit maak voorsiening vir die koolstofbelasting wat op 1 Junie in werking tree.

Toe dit vir die eerste keer in 2010 genoem is, het die idee van ’n koolstofbelasting kwaai weerstand van groot besoedelaars in die ekonomie ontlok, het die WWF gesê.

Die omgewingsgroep meen boonop baie moet nog gedoen word om die belasting meer doeltreffend te maak, hoewel dit ’n belangrike eerste stap is.

Maar die regsfirma Webber Wentzel waarsku sake-ondernemings het nog net ’n paar dae voor 1 Junie oor om uit te werk wat hul blootstelling aan die belasting is, en om die komplekse landskap te navigeer wat betref die invordering van dié belasting.

Die departement van omgewingsake het ’n verpligte rapporteringstelsel vir kweekhuisgasse opgestel waardeur maatskappye moet aanmeld hoeveel kweekhuisgasse hul bedrywighede vrystel.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het reeds reëls, skedules en vorms vir die koolstofbelasting vir kommentaar tot 14 Junie gepubliseer, het Wentzel gesê.

Die nasionale tesourie sê die koolstofbelasting is ’n integrale deel van Suid-Afrika se poging om sy teikens van kweekhuisgas-vermindering te haal as deel van sy verbintenis tot die Parys-ooreenkoms. Dié internasionale ooreenkoms is in Desember 2015 tydens die jaarlikse VN-klimaatberaad opgestel, en Suid-Afrika het in November 2016 amptelik deel geword daarvan.

Die koolstofbelasting sal begin op ’n effektiewe vlak van tussen R6 tot R48 per ton koolsuurgas-ekwivalent. Dit sal in die eerste fase geld van nou tot einde 2022. Die tesourie meen dit is ’n relatiewe lae belastingkoers, en sal huidige groot besoedelaars kans gee om hul bedrywighede oor te skuif na skoner tegnologie deur belegging in energiedoeltreffendheid, hernieubare energie en ander laekoolstof-maatreëls.

Hersiening

Die tesourie het belowe hy sal die impak van die belasting ná minstens drie jaar beoordeel om te kyk of vordering gemaak is in die teikens om kweekhuisgasse te verminder. Die koers en belastingvrye drumpels vir die belasting sal dan vir die tweede fase van 2023 tot 2030 hersien word.

As deel van die proses om die koolstofbelasting van krag te maak is die Wysigingswet oor Doeane en Aksyns ook verlede week in die Staatskoerant gepubliseer. Dié wet maak voorsiening vir die administratiewe reëlings vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om die koolstofbelasting in te vorder. Dit is om regstegniese redes as ’n afsonderlike wet van die Wet op Koolstofbelasting opgestel.

Kritiek

Kritici van die koolstofbelasting het vroeër gesê dit is onnodig, want Suid-Afrika se ekonomie groei in elk geval traag en daar is hoë werkloosheid. Die tesourie het egter aangevoer die Wêreldbank het gevind die koolstofbelasting kan Suid-Afrika help om sy kweekhuisgasse teen 2025 met tussen 13% en 14,5% te verlaag, en teen 2035 met 26% tot 33%.

Ander het aangevoer dit sal Suid-Afrika se mededingendheid teenoor China en Brasilië knou. Die tesourie het genoem Brasilië, die Ivoorkus en Marokko oorweeg self hul eie koolstofbelasting. Singapoer en Argentinië gaan ook vanjaar ’n koolstofbelasting instel. Mexiko het sedert 2014 ’n koolstofbelasting op fossielbrandstof, en Colombië het in 2017 ’n koolstofbelasting op vervoerbrandstof.

Die tesourie meen daar is toegewings vir sekere sleutel-nywerheidsektore, en namate koolstofprysmaatreëls wêreldwyd uitbrei, sal die impak op mededingendheid stelselmatig versag.

Meer oor:  Wwf  |  Koolstofbelasting  |  Omgewingsbewaring  |  Koolstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.