Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Groenes steek nog ’n stok in Karpowership se wiel

’n Tweede omgewingsgroep protesteer nou teen die Turkse groep Karpowership se poging om Suid-Afrika met sy kragkrisis te help.

Die hawe van Richardsbaai, waar Karpowership se plan om kragskepe vas te meer ook nou deur omgewingsgroepe teengestaan word.

Die Sentrum vir Omgewingsregte, ’n groep regslui wat omgewingskwessies takel, het namens die aktivistegroep groundWork ’n amptelike klagte by die departement van omgewing ingedien.

Karpowership is een van ’n paar voorkeurbieërs om krag binne 12 tot 18 maande aan die kragnetwerk te lewer as deel van die departement van minerale hulpbronne en energie se noodkragprogram van 2 000 MW.

Die omgewingsgroep Green Connection het reeds daarin geslaag om die omgewingsgoedkeuringsproses vir ’n kragskip in die hawe van Saldanha stop te sit.

Die groep groundWork wil nou hê die omgewingsgoedkeuringsprosesse vir soortgelyke kragskepe in die hawens van Richardsbaai en Ngqura moet ook gestaak word.

Karpowership wil 1 220 MW se kragopwekking aan Suid-Afrika lewer deur drie skepe met gaskragstasies op in die drie hawens vas te meer.

Maar die omgewingsgroepe maak beswaar weens vrese dat die langdurige teenwoordigheid van die skepe en die gepaardgaande besoedeling skade aan seelewe en mariene ekostelsels kan aanrig. In Saldanha het plaaslike vissersgemeenskappe aangedui dit kan hul lewensbestaan in die gedrang bring.

Die aanwys van Karpowership as ’n voorkeurbieër word ook in die hof beveg deur ’n mededingende projekontwikkelaar, DNG Power, wat onsuksesvol was met sy eie bod en wat nou beweer daar was korrupsie betrokke in die tenderproses van die noodkragprogram.

LEES OOK: Karpowership kap terug oor bewerings van korrupsie

Kommentators het vroeër gewaarsku die regering se noodplan kan uiteindelik veel langer duur om in werking te stel weens al die administratiewe rompslomp saam met die teenkanting van omgewingsgroepe.

Daar is byvoorbeeld nie duidelikheid oor die proses om toestemming te kry van Transnet – die staatsbeheerde vervoergroep wat die betrokke hawens bestuur – sodat die kragskepe van Karpowership 20 jaar in die hawens vasgemeer kan lê nie.

Die idee van die noodkragprogram was om druk te verlig op Eskom, wat nie genoeg krag kan verskaf nie weens kragstasies wat gedurig onklaar raak. Die gevolg is voortdurende kragonderbrekings, wat om die beurt landwyd afgedwing word en ekonomiese groei knou.

Meer oor:  Karpowership  |  Groundwork  |  Noodkrag  |  Beurtkrag  |  Krag  |  Ipp's  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.