Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Groenkrag help tydens inperking

Meer as ’n kwart van die land se spitstydkrag is in die eerste helfte van vanjaar verskaf deur hernubare-energieprojekte wat deel is van die departement van energie se kragkoopprogram (REIPPP), toon ’n verslag van die energiereguleerder Nersa.

Die Loeriesfontein-windplaas.

Dít help om beurtkrag te beperk of heeltemal te voorkom.

Teen einde Junie was 68 van die 112 projekte reeds in bedryf met ’n gesamentlike opwekkingsvermoë van 4 283 MW. Nog nege projekte sal na verwagting teen die einde van die jaar in bedryf wees wat die totale opwekkingsvermoë van dié projekte op 5 048 MW te staan sal bring.

Dít is meer as die totale opwekkingsvermoë van Eskom se Medupi-steenkoolkragstasie by Lephalale, waarvan die ses eenhede altesaam 4 764 MW kan opwek.

Die verskillende tegnologieë se leweringspatrone verskil weliswaar baie.

Volgens Nersa lewer ander hernubarekragopwekkers, wat vir eie gebruik of vir spesifieke kliënte krag opwek, ’n bykomende 823,75 MW, terwyl Nersa ’n verdere 72 MW se klein projekte (van minder as 1 MW elk) geregistreer het. Dít is meestal sonkrag.

Danksy die groei van hernubare energie het die geografiese verspreiding van Suid-Afrika se kragopwekking heeltemal verander, sê Nersa. Die land was tot dusver grootliks afhanklik van steenkoolkragsentrales in die noordelike dele van die land en krag moes oor lang afstande herlei word. Wind- en sonkrag word egter meestal in die Oos-, Wes- en Noord-Kaap opgewek. Dit is nader aan gebruikers en kragverliese tydens versending word so beperk, sê Nersa.

Tans kan hernubare energie nog nie optimaal in spitstye benut word nie omdat daar beperkte bergingsgeriewe is.

Slegs ses gekonsentreerde sonkragprojekte het die vermoë om krag tussen twee en nege uur lank te berg.

Eskom is besig met ’n groot batterybergingsprojek en volgens Nersa behoort bykomende bergingsgeriewe teen 2022 dit moontlik te maak om hernubare energie wat in tye van lae kragvraag opgewek word, te berg vir spitstye.

Eskom moes in 2019-’20 nee dankie sê vir hernubare energie wat beskikbaar was in tye van lae vraag na elektrisiteit, maar was ingevolge die kragkoopooreenkomste met hernubarekragopwekkers verplig om steeds daarvoor te betaal. Dié uitgawes het altesame R14 miljoen beloop.

Die kragreus het in die eerste helfte van die jaar gemiddeld R2,23/kWh vir hernubare energie betaal. Die pryse het volgens Nersa egter heelwat gedaal van die eerste na latere projekte, en soos latere projekte in bedryf kom, behoort die gemiddelde eenheidsprys oor die volgende twee jaar nog verder te daal.

Mike Levington, kenner van hernubare energie, sê die land se kragverbruik in die eerste helfte van die jaar was abnormaal laag weens die Covid-19-inperking, wat vereis het dat baie fabrieke en ander nywerhede hul deure sluit.

Die vraag na elektrisiteit het volgens Nersa tydens die strengste deel van die inperking met sowat 7 000 MW gedaal, wat Eskom ook in staat gestel het om meer instandhoudingswerk te doen.

Levington sê daar is ’n reuse-aptyt by huishoudings, ondernemings en nywerhede om hul eie krag op te wek. Eskom het dit duidelik gemaak dat hy vir die afsienbare tyd nie kragverskaffing kan waarborg nie en aandeelhouers vereis van ondernemings om selfvoorsienend te raak.

Levington sê die groot vraag is of Nersa en die departement van energie ’n omgewing gaan skep waarin die bedryf kan groei en vernuwe. “Ons praat al van 2017 af daarvan, maar Nersa gebruik regulasies steeds as ’n remskoen.

“Dit word beman deur mense wat nie werklik verstaan wat verspreide kragopwekking beteken nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.