Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Groot aptyt vir private kernkrag

Die regering is bemoedig deur die goeie reaksie wat sy versoek om inligting oor 2 500 MW se nuwe kernkrag uitgelok het, het die parlement Dinsdag gehoor.

21 maatskappye stel belang om een of ander soort kernkragstasie in Suid-Afrika te bou teen 'n fraksie van die koste wat deur die IRP beplan is. Foto: Unsplash

Dit is duidelik daar is genoeg aptyt in die mark vir nuwe kernkrag in Suid-Afrika, en al die belangstellendes is vol vertroue dat die land ’n goeie beleggingsbestemming vir nuwe kernkrag is, volgens Zizamele Mbambo, adjunkdirekteur-generaal vir kernkrag in die departement van minerale bronne en energie.

Die nuwe kernkrag hoef boonop nie so ’n swaar finansiële las op die staat te wees as wat kritici altyd kla nie, want baie van die belangstellendes het innoverende finansieringsopsies voorgestel waar private konsortia ’n deel van die risiko en finansiering op hulle neem.

Mbambo het Dinsdag in die parlement aan die portefeuljekomitee oor minerale bronne en energie verslag gedoen oor die departement se versoek om inligting vir die bou van 2 500 MW se nuwe kernkrag.

Volgens Mbambo het die departement al 16 reaksies gekry van belangstellendes wat klein modulêre reaktors wil lewer, asook vyf reaksies van verskaffers van konvensionele kernreaktors, en 14 van maatskappye wat steundienste wil lewer.

Die voornemende bieërs was betrokke by 240 van die 454 bestaande kernreaktors wat tans in bedryf is in die wêreld. Die bieërs wat klein modulêre reaktors wil bou, het reeds twee in aanbou, waarvan een al as ’n prototipe aan die gang is, en die ander een sal vanjaar as ’n demonstrasie-aanleg in bedryf kom.

Die klein modulêre reaktors word volgens Mbambo ook bemark vir energielewering vir die ontsouting van seewater, die vervaardiging van sintetiese brandstof en vir verhitting.

Mbambo glo die projek kan weer lewe blaas in die PBMR-tegnologie wat tans in bewaring by Eskom is.

Die boukoste wat die bieërs voorstel vir hul projekte wissel van $1 470 per kilowatt (kW) tot $9 530 per kW, teenoor die regering se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) se skatting van $5 000 per kW wat hy in sy beplanning gebruik het. Van die maatskappye stel finansieringsmodelle voor waar ’n private konsortium ’n deel van of al die nodige finansiering vir die projek sal insamel.

Maar dit kan 8 tot 12 jaar duur voordat ’n nuwe konvensionele kernkragreaktor in Suid-Afrika in bedryf kom, en 8 tot 13 jaar voordat ’n nuwe klein modulêre reaktor in bedryf kom, volgens die verwagte tydskale wat Mbambo aan komiteelede verskaf het.

Dit kan 6 tot 10 jaar neem om ’n nuwe konvensionele kernreaktor te bou, terwyl bouwerk aan ’n nuwe klein modulêre reaktor 4 tot 6 jaar kan duur. Maar die beplanning en lisensiëring voor bouwerk kan ook 2 tot 5 jaar duur.

Mbambo sê die departement is beïndruk daarmee dat innoverende finansieringsopsies deur die mark voorgestel word wat kan beteken die regering hoef nie vooraf groot bedrae geld uit te gee nie. Omdat die ontwikkeling van die meeste klein modulêre reaktors egter nog in ’n ontwerp- en demonstrasiefase is, sal die nasionale kernreguleerder vroeg in die proses betrek moet word.

Meer oor:  Kernkrag  |  Geïntegreerde Hulpbronplan  |  Energie  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.