Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Groot gejubel: Só kan beurtkrag binne ’n jaar eindig

Pres. Cyril Ramaphosa het dalk Donderdag die belangrikste aankondiging tot nog toe vir energiesekerheid in die land gemaak.

Kraglyne en koeltorings van Eskom se Lethabo-steenkoolkragstasie naby Sasolburg. Foto: Reuters
Reuters reuters

Só sê Chris Yelland, energiekenner en besturende direkteur van EE Business Intelligence, wat meen dat beurtkrag binne ’n jaar of 18 maande ’n ding van die verlede kan word.

Ramaphosa het Donderdag aangekondig dat die drempel vir die selfopwekking van krag sonder ’n lisensie van 1 megawatt (MW) tot 100 MW gelig word.

Dit beteken munisipaliteite en ondernemings wat self wil krag opwek, mag voortaan aanlegte bou sonder om ’n lisensie van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) te bekom.

Die departement van minerale bronne en energie wou aanvanklik die drempel van 1 MW tot net 10 MW verhoog.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het nie lank gelede nie volgehou dat die land “nie gereed” is vir ’n drempel van meer as 10 MW nie.

Ramaphosa sê egter die kragkrisis is die enkele grootste bedreiging vir ekonomiese groei in die land.

Hy sê dat “dapper” stappe moet gedoen word, nie net “inkrementele stappe” nie.

Daarom het Ramaphosa “na die kenners geluister” en met Mantashe gepraat om hom te oortuig om skedule 2 van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit vir die 100 MW-perk aan te pas.

Yelland sê Ramaphosa “verstaan” duidelik die behoeftes van die land en die energiebedryf.

Dis ’n reuse-stap in die regte rigting wat Suid-Afrika se energieprobleme kan oplos.
Connie Mulder

Die DA se Kevin Mileham sê in ’n verklaring dis duidelik dat Ramaphosa besluit het om die kragsituasie op groot skaal aan te pak. Die DA verwelkom sy besluit.

Lisensiëring deur Nersa is ’n peperduur en langsame proses wat kragprodusente verhinder het om projekte van stapel te stuur.

Talle myne, wat oorgehaal sit om hul eie krag op te wek, sukkel al jare om lisensies te bekom.

Yelland verduidelik dat myne reeds aangedui het dat hulle met die nuwe regulasies bereid is om binne ’n jaar minstens 1 500 MW se opwekkingskapasiteit te bou.

En dis net die myne nie.

Munisipaliteite, van Kaapstad tot Emfuleni (Vaaldriehoek), is oorgehaal om binne ’n kort tydperk 2 000 MW se opwekkingskapasiteit op te rig, sê Yelland.

Daar gaan inderwaarheid binne 18 maande meer as 5 000 MW se nuwe opwekkingskapasiteit opgerig word, teen “geen koste vir die fiskus nie”, reken Yelland.

Die vakbond Solidariteit verwelkom ook die aankondiging juis omdat dit die “desentralisering en privatisering” van kragopwekking aandui.

“Dis ’n reuse-stap in die regte rigting wat Suid-Afrika se energieprobleme kan oplos. Kleinskaalse kragopwekking is ’n sektor wat ongelooflike werkskeppingspotensiaal het, nie net in die sektor self nie, maar ook in die breër ekonomie,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, meen dat Ramaphosa die aankondiging gedoen het omdat die regering tot die besef gekom het dat hy nie self Eskom se probleme kan oplos nie. “Hulle het besef dat hulp vanuit die private sektor nodig is,” sê hy.

Hoekom moet ons altyd wag tot alles in duie stort voor die oplossings kom?
Dawie Roodt

“Kritiek belangrik tot die proses is dat die registrasieproses vir eie opwekking so maklik as moontlik moet wees. Ná 14 jaar is daar genoeg getalm met oplossings – nou moet so vinnig as moontlik beweeg word ten einde die energiekrisis beslissend tot ’n einde te bring,” sê Mulder.

As net 50 maatskappye besluit om die nuwe drempel te benut, reken Mulder, is die lopende tekort aan opwekkingsvermoë wat Eskom vir die volgende jaar voorsien, heeltemal opgelos.

“Dit kan die einde van beurtkrag beteken.”

Volgens die Mineraleraad is die aankondiging ook uitstekende nuus vir die ekonomie.

Hy sê dat R27 miljard se beleggings nou deur mynmaatskappye gemaak gaan word om hul eie krag op te wek, wat werkskepping en ekonomiese groei ’n hupstoot sal gee.

Politieke ontleders het Ramaphosa se aankondiging verwelkom, maar sê dit moes lankal gebeur het.

Prof. Susan Booysen, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê dis asof die regering nou eers besef hoe groot die impak van beurtkrag op die land se ekonomie is.

“Iets het hul ore oopgemaak. Dit is regtig skrikwekkend dat die regering nou eers besef hoe groot die probleem van beurtkrag is.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, stem saam – die aankondiging moes lankal gekom het.

“Hoekom moet ons altyd wag tot alles in duie stort voor die oplossings kom?”

Roodt reken die wysiging aan die regulasies sal beteken dat Suid-Afrika binne twee jaar oorgenoeg energie sal hê, wat beteken dat die omstrede kragskepe nie eens meer nodig sal wees nie.

Booyens sê die aankondiging sal ’n groot invloed hê op die land se ekonomie op lang termyn. “Sakevertroue en bereidwilligheid om te belê sal toeneem.”

Eskom is op sy beurt verheug deur die aankondiging.

Volgens Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, het die nutsmaatskappy hom daarvoor beywer dat die drempel noemenswaardig verhoog word.

“Dit het nou gebeur, en sal mettertyd help om die druk op Eskom te verminder en meer elektrisiteit aan die land beskikbaar te stel. Dit is ’n goeie stap en Eskom verwelkom dit.

“Die werklikheid is egter dat dit nog ’n rukkie sal neem voordat enige beleggings nuwe elektrisiteit begin lewer.”

Meer oor:  Eskom  |  Dawie Roodt  |  Lisensies  |  Groenkrag  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Selfopwekking  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.