Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Groot kans vir nuwe raffinadery

Die waarskynlikheid dat Suid-Afrika ’n nuwe olieraffinadery gaan bou, is baie hoog, het Jeff Radebe, minister van energie, Donderdag gesê.

Jeff Radebe, minister in die presidensie. Foto: Theana Breugem

Hy sê hy was onlangs saam met pres. Cyril Ramaphosa in die Verenigde Arabiese Emirate om met kenners oor die bou van die nuwe raffinadery te praat.

Nuus oor die herstrukturering van die Sentrale Energiefonds sal ook op die regte tyd bekend gemaak word, het Radebe gesê.

Hy het by ’n vraag-en-antwoordsessie met joernaliste by die Africa Oil & Power-konferensie in Kaapstad gesê die konsultantefirma Boston Consulting Group help die departement van energie met advies en voorstelle oor hoe die Sentrale Energiefonds herskik kan word.

Radebe het ook Donderdag samesprekings gevoer met Mohammed Barkindo, sekretaris-generaal van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul).

Suid-Afrika gebruik 100 000 ton ruolie elke dag, of sowat 700 000 vate olie per dag, het Radebe gesê, en 90% daarvan kom van lande wat lid is van Opul.

Waaroor gepraat is met die Opul-baas, was hoe in die toekoms saamgewerk kan word, en veral ook oor vaardigheidsontwikkeling, het Radebe gesê.

Hy wou nie uitbrei oor die regsproses wat betref die ondersoek na die verkoop van Suid-Afrika se strategiese olievoorraad onder toesig van ’n vorige energieminister, Tina Joemat-Pettersson, in 2016 nie. Hy het net gesê die proses is aan die gang.

Radebe sê die ingryping by die petrolprys vandeesweek om ’n verhoging vir September te beperk, impliseer ’n koste van sowat R400 miljoen, maar dit sal die staatskas niks kos nie. Dit word deur olie-invoerders geabsorbeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.