Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Groot sakeliggaam steun kernkrag

Die Kaapse Kamer van Koophandel het sy stem laat hoor ten gunste van die regering se volgehoue plan om kernkrag deel van die energiemengsel te maak.

Besoekers voor ’n lewensgrootte skaalmodel van die Amerikaanse maatskappy NuScale se klein modulêre kernreaktor. NuScale sê daar is geen ontruimingsone nodig rondom sy reaktor nie, want die ontwerp is inherent veilig. As die reaktor te warm word, skakel dit vanself betyds af om af te koel. Foto: BusinessWire

Maar onsekerheid bestaan nog oor waar Suid-Afrika gou klein modulêre kernreaktors vandaan gaan kry, siende dat die meeste van dié tegnologie nog in die ontwikkelingstadia is.

Volgens die Wêreld-kernkragvereniging (WNA) is daar wel al vyf sulke reaktors in bedryf, waarvan die grootstes (300 MW en 220 MW) in China en Indië is.

China se reaktor word al sedert die 1970’s ontwikkel en is gegrond op ’n duikboot-kernreaktor. Die tweede een is in Pakistan gebou en het in 2000 begin werk.

Suid-Afrika se eie korrelbedkernreaktor-projek (PBMR) is in 2010 weens gelddruk gestaak voordat ’n demonstrasiereaktor ooit gebou kon word. Dit word tans in bewaring gehou by Eskom, en Eskom wil dit verkoop. Die WNA het die PBMR ook op sy lys van klein reaktorontwerpe wat in vroeë stadiums van ontwikkeling is of wat gestaak is.

Hy lys ook die Suid-Afrikaanse HTMR-projek om ’n reaktor van 35 MW te ontwikkel. Dit is die plan van Steenkampskraal Thorium om ’n eenvoudiger model as die PBMR te ontwikkel, wat thorium as brandstof gebruik.

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het tans ’n versoek uit vir openbare kommentaar oor goedkeuring vir die departement van minerale bronne en energie se voorneme om 2 500 MW se klein modulêre kernkrag te bou.

Dit is bedoel as deel van die plan om die sowat 24 100 MW se verouderende Eskom-steenkoolkragstasies te vervang wat van 2024 af sal moet sluit.

LEES OOK: Nuwe stryd teen kernkrag dreig

Ingevolge die regering se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) van 2019 is dit ook bedoel as rugsteun ingeval ’n plan deur die mat val om 2 500 MW se hidroëlektriese krag van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) af aan te koop. Laasgenoemde, die Inga-projek, sou die opknapping en uitbreiding van die Inga-hidrokragstasie in die Kongorivier behels, maar dit sloer al vir jare weens politieke onrus in die DRK, ’n gesukkel om finansiering te vind, bewerings van korrupsie asook erge teenkanting van omgewingsgroepe.

Daar is ook die kwessie van wie gaan betaal vir die bou en versterking van die duisende kilometer se transmissielyne van die DRK deur Angola, Namibië, Botswana en Zambië tot in Suid-Afrika.

Janine Myburgh, president van die Kaapse Kamer van Koophandel, wys daarop dat die 2 500 MW se kernkrag kwalik ’n duik gaan maak aan die gaping van 24 100 MW. Maar ’n modulêre ontwerp beteken ekstra modules kan maklik bygevoeg word soos nodig, en daarom is dit ’n sinvolle projek.

Myburgh wys op die groen drukgroepe wat verwoed gekant is teen kernkrag, maar wys ook daarop dat die regering geensins hierdie keer ’n Tsjernobil-tipe reuse-kernreaktor beplan nie.

Eskom is volstoom besig met aanpassings aan die Koeberg-kernkragstasie om sy leeftyd tot 2044 te verleng.

Die vorige poging van die regering om nuwe kernkrag te bou, was die plan van 9 600 MW onder oudpres. Jacob Zuma se leiding, maar dit is deur die omgewingsgroepe in die hof gestuit.

Myburgh meen die regering behoort alle opsies, insluitende kernkrag, hidrokrag, gas, wind- en sonkrag in te sluit in die poging om die ekonomie aan die gang te hou.

Volgens die WNA is die meeste klein modulêre kernreaktors nog in die ontwikkelingsfase, met veral private beleggers wat daarin belang stel. In Oktober het die Amerikaanse departement van energie byvoorbeeld navorsingskenkings van $80 miljoen elk gemaak aan die private maatskappye TerraPower en X-energy, wat binne die volgende 7 jaar demonstrasiemodelle gereed wil hê.

In Brittanje het die maatskappy NuScale gesê hy kan teen die middel van die 2020’s sy eerste reaktors van 60 MW elk in bedryf hê, sê die WNA. Rusland, Argentinië, Kanada, Japan, Swede en Indië is in verskillende stadia van ontwikkeling van klein reaktors.

China het al die verste hiermee gevorder. Benewens dié wat hy reeds in bedryf het, bou Chinese staatsfirmas tans aan twee reaktors van 250 MW elk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.