Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Tekort aan diesel in SA
Dieseltekorte kan tot die einde van die week voortduur weens skerper as verwagte groei in die vraag namate die ekonomie heropen.

Daar is ’n dieseltekort in Suid-Afrika en dit kan tot die einde van die maand, dus tot kort voor volgende week, voortduur, het die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfvereniging (Sapia) bevestig.

Die tekort is te wyte daaraan dat die ekonomie met die oorgang van die vlak 5-inperking na vlak 4 vinniger as verwag begin herstel het en die vraag na diesel drasties gestyg het, het Sapia in ’n verklaring gesê.

Onbeplande probleme by sommige raffinaderye het tot die tekort bygedra.

Kevin Mileham, DA-lid van die parlement se portefeuljekomitee oor energie, het vroeër gesê hy het verneem dat drie van die ses raffinaderye in die land tans uit diens is, en dat twee daarvan net beperkte produksie het en die staatsbeheerde PetroSA sy produksie tydelik moes staak weens pypleidingsprobleme en onsuiwerhede wat in sy stelsel beland het.

Woordvoerders van PetroSA het egter nog nie gereageer op navrae om dit te bevestig nie.

Volgens Sapia is albei die raffinaderye in Durban tans besig om hul produksie te hervat en dit behoort teen die einde van Mei, dus oor die naweek, ten volle in bedryf te wees. Die verskaffing van diesel behoort dan te normaliseer.

Die twee raffinaderye in Durban is Enref ,wat deur die Maleisies beheerde brandstofmaatskappy Engen bedryf word, en Sapref, wat gesamentlik deur Shell en BP bedryf word. Die woordvoerders van Engen het ook nog nie op navrae gereageer nie.

Van die raffinaderye het die vlak 5-inperking gebruik om beplande instandhouding te doen. Engen het al op 27 Maart in reaksie op die verwagte laer vraag na brandstof tydens die inperking sy produksie afgeskaal. Brandstofverkope het wel skerp geval in die eerste deel van die inperking toe die meeste ondernemings gesluit was en mense meestal tot hul huise beperk was.

Engen het toe gesê hy het genoeg voorraad opgebou om in die beperkte vraag te voldoen.

Volgens Mileham se inligting word net baie beperkte hoeveelhede brandstof tans ingevoer, en word verwag dat die dieselvoorraad gerantsoeneer sal word.

Mileham meen die regering moes al lankal die konsepbeleid oor strategiese brandstofvoorraad van 2013 bekragtig het om brandstoftekorte te voorkom. Die beleid is nog nooit formeel aanvaar nie. In 2013 is bereken dat brandstoftekorte die ekonomie R1 miljard per dag aan verlore ekonomiese geleenthede kan kos.

Ingevolge die voorgestelde beleid moes brandstofmaatskappye en groothandelaars minstens 14 dae se brandstof as strategiese voorraad hou. Dit is benewens die staat se eie strategiese voorraad.

Die landbou-organisasie TLU SA het ook gewaarsku oor die risiko van brandstoftekorte as gevolg daarvan dat die raffinaderye hul produksie tydens die inperking afgeskaal het. Dit kan problematies raak as boere se vraag na diesel in aanloop tot oestyd skerp styg, en verskaffers nie brandstof betyds kan lewer nie, het Louis Meintjes, president van TLU SA, gewaarsku.

Meer oor:  Brandstoftekort  |  Ekonomie  |  Brandstof  |  Diesel  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.