Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Grootste groenkrag-aanleg nóg kom na Secunda

Sasol en Air Liquide gaan die grootste versoek vir voorstelle nóg uitreik om hul bedrywighede in die erg besoedelde streek van Secunda groener te maak.

Dampe styg uit koeltorings van die Sasol Secunda-steenkool-tot-vloeistof-aanleg in Mpumalanga. Met 56,5 miljoen ton kweekhuisgasse per jaar oorskry Secunda se vrystellings die individuele totale van meer as 100 lande, waaronder Noorweë en Portugal, volgens die Global Carbon Atlas. Foto: Getty Images

Air Liquide, ’n vervaardiger van gas vir nywerheidsdoeleindes, gaan saam met Sasol, die wêreld se grootste besoedelaar ten opsigte van koolsuurgasvrystellings op een plek in Secunda, 600 megawatt (MW) se hernubarekragaanlegte bou in die stad om hul skuif na groenkrag te bewerkstellig.

Die 600 MW-aanleg sal deel vorm van die twee maatskappye se verbintenis tot ’n projek om teen 2030 900 MW se hernubarekragaanlegte op die perseel te bou.

Die eerste fase van 600 MW sal spesifiek krag voorsien aan die grootste suurstof-aanleg ter wêreld, wat Air Liquide in die proses is om by Sasol te koop.

Dié transaksie moet nog deur die Mededingingskommissie goedgekeur word.

Die nuwe hernubarekragaanleg sal soveel krag voorsien dat dit die fabriek se koolstofvrystellings met tussen 30% en 40% sal verminder.

Dit is in die pas met sowel Air Liquide as Sasol se pogings om hul koolstofvoetspoor te verklein en klimaatsteikens te haal.

Air Liquide en Sasol sal later vandeesmaand gesamentlik die versoek vir voorstelle aan die mark uitreik.

Air Liquide sal 400 MW van die 600 MW benut, terwyl Sasol van 200 MW gebruik sal maak.

Albei partye wil die ondertekening van langtermyn-kragaankoopooreenkomste voor die einde van die jaar klaar hê.

Ronnie Chalmers, adjunkpresident van Air Liquide in Afrika, die Midde-Ooste en Indië, sê hierdie versoek vir tenders, die grootste nog deur die private sektor in Suid-Afrika, is ’n belangrike hefboom vir die vermindering van koolstofvrystellings in Secunda.

“Ons vennootskap met Sasol kombineer bedryfsdoeltreffendheid en die vermindering van koolstofvrystellings, en illustreer ons vermoë om met ons kliënte te kan saamwerk om hulle te help om hul koolstofvoetspoor te verlaag en om ten gunste van die klimaat en plaaslike ekostelsels op te tree.

“Klimaataksie is die kern van Air Liquide se groeistrategie, en ons sal voortgaan om vir ’n volhoubare toekoms op te tree.”

Lebelo Lukhele, Sasol se hoofverkrygingsbeampte vir energiesake, sê “vanweë die hoogs geïntegreerde aard van die Secunda-perseel en die hoë kweekhuisgas-voetspoor wat verband hou met die lugskeidingseenhede, is samewerking tussen die maatskappye nodig om optimale voordele vir die vermindering van kweekhuisgasse te verseker.

“Na verwagting sal ’n samewerkende benadering nie net daartoe lei dat die oorspronklike Sasol-verbintenis vir die Secunda-perseel nagekom word nie, maar dat dit ook deur die gesamentlike pogings oorskry sal word.”

Die maatskappye mik om die aanlegte klaar te hê teen 2023, wanneer die eerste krag opgewek moet word.

Individuele bieërs sal minstens 70 MW-aanlegte moet bou waarvan Sasol en Air Liquide dan krag sal koop.

Maar die finale ondertekening van die ooreenkomste is onderworpe aan die goedkeuring van die verkryging van Sasol se suurstof-aanleg deur Air Liquide.

Air Liquide het in Julie 2020 sy voorneme aangekondig om Sasol se Secunda-suurstofaanlegte te bekom en te bedryf. In hierdie konteks sal Air Liquide die 16 lugskeidingseenhede van hierdie perseel bedryf, met ’n geïnstalleerde kapasiteit van 42 000 ton per dag, benewens die eenheid wat hy reeds vandag bedryf.

Air Liquide, wat sedert 1979 op die perseel is, het aanvanklik hierdie 16 lugskeidingseenhede gebou en toe aan Sasol verkoop en sal nou in hul modernisering belê.

Meer oor:  Sasol  |  Chemikalieë  |  Suurstof  |  Krag  |  Groenkrag  |  Ipp's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.