’n Kontrak van R3,7 miljard tussen die Gupta-verwante steenkoolmynmaatskappy Tegeta en Eskom wat uit 2015 spruit, is deur die hooggeregshof in Pretoria ongeldig verklaar.

Die Majuba-steenkoolkragstasie in Mpumalanga.
Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Vrydag gesê hy is deur die presidensie se spesiale ondersoekeenheid (SOE) ingelig dat die SOE so ’n hofbevel bekom het om die kontrak tussen Tegeta en Eskom onwettig te verklaar.
Lamola het die nuus verwelkom en sê dit is vordering in die stryd teen wanbestuur.
Die kontrak is op 10 Maart 2015 gesluit. Dit sou Tegeta die reg gee om vir tien jaar steenkool aan Eskom se Majuba-kragstasie in Mpumalanga te lewer. Die hof het beslis die kontrak is onwettig, ongeldig en dat dit geen regskrag het nie.
Die hof het die SOE ook toestemming gegee om verdere regstappe ingevolge art. 133 van die Maatskappywet teen Tegeta in te stel.
Tegeta is in Februarie 2018 in sakeredding geplaas.