Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Guptas bedrieg Eskom oor bemagtiging’
Dean Macpherson, DA woordvoerder.

Drie Gupta-verwante maatskappye het in 2016 moontlik bedrog gepleeg met hul bemagtigingsertifikate aan Eskom, sê die DA.

Hy het die bemagtigingsertifikate van Tegeta, Optimum Coal en Trillian Consulting ingevolge die wet op toegang tot inligting by Eskom gekry.

Die drie ondernemings het in 2016 die bemagtigingsertifikate by Eskom ingedien om kontrakte te kry, aan interne verkrygingsvereistes te voldoen en, in die geval van Trillian, om betalinggoedkeuring te verseker.

Tegeta het op sy bemagtigingsertifikaat hom voorgedoen as ’n mikro-onderneming, maar daarvoor moet sy jaarlikse omset minder as R5 miljoen wees. Tegeta se bates word egter op R11 miljoen geraam en sy kontrakte met Eskom het ’n totale waarde van R2,2 miljard, sê Dean Macpherson, DA-woordvoerder oor handel en nywerheid.

Trillian Consulting het hom ook in ’n beëdigde verklaring as ’n mikro-onderneming voorgehou, maar Trillian en die internasionale konsultant McKinsey is tussen April 2016 en Februarie 2017 R1,6 miljard betaal vir konsultasiewerk wat hulle tussen 2015 en 2016 gedoen het.

Drie dae nadat Trillian se bemagtigingsertifikaat op 14 April 2016 uitgereik is, het hy R495 miljoen van Eskom ontvang vir konsultasiedienste en R30,7 miljoen vir die opstel van ’n korporatiewe plan vir Eskom.

Gegrond op dié inkomste sal Trillian nie as ’n mikro-onderneming kwalifiseer nie, wys die DA se ontleding van die dokumente.

Eskom het in 2016 kwaai druk op Exxaro, sy grootste verskaffer van steenkool, geplaas om sy bemagtigingseienaarskap tot bo 50% te kry.

’n Verklaring wat Trillian as ’n mikro-onderneming bestempel, voer aan dat Trillian in die 2016-boekjaar nie ’n inkomste van meer as R10 miljoen ontvang het nie.

Tegeta en Optimum se sogenaamde swart eienaarskap word verteenwoordig deur Mabengela Investments van Duduzane Zuma, wat 28,5% van Tegeta besit, en Salim Essa, ’n Gupta-sakevennoot, wat 21,5% besit. Duduzane is die seun van oudpres. Jacob Zuma.

Volgens Macpherson is daar nie beskikbare bewyse dat Tegeta swartvroue-eienaarskap van 5,13% het nie, hoewel dit so op die bemagtigingsertifikaat aangedui word.

Hy meen die bemagtigingsertifikate van die Gupta-beheerde maatskappye was dalk ’n poging om kunsmatig aan Eskom se bemagtigingsvereistes te voldoen.

Hy sê Eskom het in November 2016 aangevoer Tegeta is meer as 50% in swart besit. Hy sê die DA gaan dit as waarskynlik bedrieglike optrede by die Bemagtigingskommissie aanmeld sodat dit ondersoek kan word.

Eskom het ten tyde van publikasie nog nie op navrae gereageer nie.

Eskom het in 2016 kwaai druk op Exxaro, sy grootste verskaffer van steenkool, geplaas om sy bemagtigingseienaarskap tot bo 50% te kry. Dit was nadat daar berig is dat Exxaro se swart eienaarskap tot sowat 30% kan daal weens ’n ooreenkoms met sy bemagtigingsvennote wat verstryk het.

Eskom het in November 2016 spesifiek verwys na Tegeta se swart eienaarskap van 51% en dat dit ’n opkomende swart steenkoolverskaffer is wat aan Eskom se vereistes voldoen.

Volgens die sertifikaat wat die verifiëringsagentskap BEE Matrix vir Optimum uitgereik het, is Optimum 50,04% in swart besit en is daar ’n swartvroue-besit van 5,13%.

Die bemagtigingsertifikaat vir Tegeta het identiese syfers as die een vir Optimum. Dit is op 11 Februarie 2016 uitgereik en het op 10 Februarie 2017 verstryk.

Die Guptas het Tegeta verlede jaar vir R2,97 miljard aan ’n Switserse maatskappy genaamd Charles King verkoop.

Meer oor:  Charles King  |  Optimum Coal  |  Trillian  |  Mckinsey  |  Tegeta  |  Eskom  |  Exxaro  |  Guptas  |  Dean Macpherson  |  Bedrog  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.