Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Gwede: 10 MW of 50 MW – dis akademies

“Die verskil tussen 10 MW en 50 MW is ’n akademiese debat. Die meerderheid in die mark het gesê hulle is gelukkig met 10 MW, en ons is nog nie gereed vir 50 MW nie.”

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie.

Só het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, Dinsdag die regering se besluit verdedig om die drempel waar mense nie vir ’n kragopwekkingslisensie hoef aansoek te doen nie, net tot 10 MW te verhoog en nie 50 MW, soos selfs Eskom se leierskap gevra het, nie.

“Daar was baie geraas daaroor, maar ons peiling in die mark was dat daar oorweldigende steun was vir die 10 MW. Baie mense in die mark het gesê ons is nog nie gereed vir die 50 MW nie. Ons toets eers die mark en kyk hoe dit werk.”

Volgens hom het die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) al meer as 200 sulke klein kragopwekkingsprojekte vir tot 94 MW in totaal goedgekeur, met net van vyf van dié projekte wat 1 MW groot was.

Mantashe het wel verwys na die myngroep Goldfields wat binnekort sy eie kragstasie van 40 MW vir selfgebruik gaan bou, en hy het ander myne genooi om iets soortgelyk te doen.

“Ons sal die proses versnel en saamwerk met Nersa.”

Nog nuwe krag kom

Mantashe se departement gaan in die komende maande verdere versoeke vir voorstelle uitstuur: vir 2 600 MW se hernieubare energie in Augustus, 350 MW se kragstoor-tegnologie teen Augustus, 1 500 MW se nuwe steenkoolkrag teen Desember, 3 000 MW se gaskrag teen Desember, en nog 1 600 MW se hernieubare krag teen Januarie 2022.

Steenkool

Mantashe het die regering se volgehoue toekenning van kwotas vir steenkoolkrag verdedig en verduidelik hy kan nie tegnologie vir skoner steenkoolkrag toets as daar nie steenkoolkragstasies is waar dit getoets kan word nie.

Die regering bly onwrikbaar verbind tot ’n regverdige oorgang na laekoolstof-energie.

Skaliegas

Hy het verwys na die Franse oliereus Total se ontdekking van gaskondensaat by die Luiperd-boorgat in die Suid-Kaap, asook na ’n toetsboorgat vir skaliegas in die Karoo wat sedert September verlede jaar deur die Raad op Geowetenskappe geboor word. Hiervan is 34 houers met gasmonsters wat op verskillende dieptes in die Karoo gevind is, vir ontleding na een van die regering se laboratoriums gestuur. Sodra die uitslae bekend is, sal hy weer in Beaufort-Wes gaan kuier, het Mantashe gesê.

Dit is alles positiewe seine dat Suid-Afrika daarin sal slaag om dié hulpbronne te ontwikkel.

Diepsee-eksplorasie

Daar is ook nog ander diepsee-eksplorasie aan die gang aan die Wes- en Ooskus van die land.

Mantashe het gewaarsku dit sal nie alles glad verloop nie want daar is altyd weerstand van veral omgewingsaktiviste. Maar hy meen Suid-Afrika is ’n ontwikkelende ekonomie, en daar kan nie van hom verwag word om net alle fossielbrandstowwe af te skakel nie.

“Ons is wel onwrikbaar verbind tot laer koolstofvrystellings. Daarom praat ons van ’n regverdige oorgang, nie van die een ekstreem na die ander nie.

"Al is Suid-Afrika en die wêreld onder druk om teen klimaatsverandering te stry, is Suid-Afrika steeds afhanklik van fossielbrandstof en ons realiteit is dat ons hierdie omvangryke hulpbronne het wat ons steeds sal voortgaan om te ontgin.”

Gaskragstasies

Oor vloeibare aardgas (LNG) het Mantashe gesê dit moet behoorlik en deeglik beplan word, want “dit is ’n aantreklike sektor vir mense wat vinnige geld wil maak, maar ons moenie die aasvoëls toelaat nie”.

Die versoek om voorstelle vir gaskragstasies sal teen die derde kwartaal van die 2021-’22-boekjaar uitgereik word. Drie gaskragstasies van 1 000 MW elk word by van die land se spesiale ekonomiese sones (SEZ) beoog.

Meer oor:  Nersa  |  Lisensies  |  Groenkrag  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Selfopwekking  |  Kragkrisis  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.