Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Gwede gooi net ’n klip in bos, en almal is verward

Gwede Mantashe se aankondiging op die Mynbou-indaba dat die regering binne ’n jaar ’n nuwe staatsentiteit wil begin om krag op te wek, was heeltemal onverwags.

Antoinette Slabbert

Selfs André de Ruyter, die nuwe Eskom-baas, is nie vooraf ingelig dat sy sukkelende kragopwekkingsonderneming ’n mededinger in staatsgeledere gaan kry nie.

Die “Padkaart vir Eskom na ’n hervormde kragvoorsieningsbedryf” wat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in Oktober verlede jaar bekend gestel het, sprak ook g’n sprook daaroor nie.

Ook van Tito Mboweni, minister van finansies, se hoof-herstruktureringsbeampte wat die nasionale tesourie as ’n soort administrateur verteenwoordig en Eskom se reg­rukproses sal lei, het weinig gekom.

Dit lyk of Gordhan, Mboweni en Manta­she, wat as minister van minerale bronne en energie moet pa staan vir die land se energiebeleid, hoegenaamd nie hul planne en uitsprake koördineer nie.

Dít is nie hoe regeringsbeleid gevorm moet word nie. Van die formele proses wat begin by ’n bepaalde staatsdepartement, vorder tot ’n groenskrif wat deur komitees in die parlement verfyn word tot ’n witskrif en getimmer word tot amptelike beleid, was daar weinig sprake.

Dit is in dié proses dat moeilike vrae oor waar die herstruktureringsbeampte in Eskom se struktuur sou inpas en aan watter wetgewing hy sy magte sou ontleen, gevra sou word. Die finansiering van ’n nuwe kragopwekkingsentiteit sou gedebatteer word en rolspelers sou antwoorde soek op vrae oor oorvleueling van mandate en onbedoelde gevolge.

Maar dit is nie hoe dinge tans gebeur nie. ’n Ministeriële raadgewer kry ’n idee, verkoop dit aan sy minister, wat dit kabinet toe neem en ’n aankondiging doen. Geen besonderhede. Net ’n klip in die bos en verwarring oral.

Daar is totale paniek in die regering en onder politici oor die omvang van die Eskom-probleem. Dis nou krisisbestuur.

Theo Venter, ’n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê daar is tans ’n beleidsvakuum. Enersyds hardloop die probleme by Eskom geheel en al weg vir die stadige proses van formele beleidsformulering. (Dit neem minstens ses maande, maar waarskynlik nader aan een tot twee jaar, om die formele proses te voltooi, sê staatsamptenare.)

“Die handboeke maak nie voorsiening vir die huidige krisis by Eskom met die impak van beurtkrag en vrae oor eie kragopwekking deur die myne nie.”

Daar is totale paniek in die regering en onder politici oor die omvang van die Eskom-probleem. Dis nou krisisbestuur. En as dit gebeur sonder duidelike beleid, beteken dit gewoonlik dat die een wat die hardste skree, se stem gehoor word, sê Venter. “Ons is nou in beleidsdryfsand. Dit lyk of Mantashe se Eskom 2.0 uit die duim gesuig is.”

Onderliggend is die reuse-Eskom-skuld.

Dit lyk of Gordhan, Mboweni en Manta­she, wat as minister van minerale bronne en energie moet pa staan vir die land se energiebeleid, hoegenaamd nie hul planne en uitsprake koördineer nie. Foto: Lucky Maibi

Hieroor het Cosatu nou ook sy skree geskree: Gebruik staatspensioengeld om Eskom te stabiliseer. Die plan is skynbaar in November verlede jaar vir die eerste keer geopper en die kans lyk goed dat pres. Cyril Ramaphosa dit vandeesweek in sy staatsrede gaan aankondig.

Maar daar is geen duidelikheid oor die belangrikste aspek van die plan nie: Wie gaan die R200 miljard of meer wat die staatspensioenfonds en ’n paar ander instansies skynbaar gaan opdok, terugbetaal en op watter voorwaardes?

Daar is ’n dawerende stilte oor dié belangrike vraag. Cosatu sê dit gaan nie ’n skenking wees nie. ’n Spesiale entiteit sal geskep word om die skuld te huisves, maar daar stop die haastig bekookte plan.

“Daar moet nog baie huiswerk gedoen word om te verhoed dat die plan boemerang, nie net vir die pensioenfonds nie, maar ook die nasionale tesourie,” sê prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool.

Dis soos as my pa my huislening oorneem omdat ek nie meer kan betaal nie. As hy my drie jaar kans gee om op my voete te kom voordat ek hom begin terugbetaal en hy die rentekoers boonop verlaag, maak dit sin.

As ek hom nie terugbetaal nie, is dit ’n skenking. Al verskil is, in dié verhaal is die pa die land se pensioentrekkers. En hulle staan gevaar om in ’n skenking geboelie te word.

  • Antoinette Slabbert is ’n spesialisverslaggewer van Rapport.
Meer oor:  Eskom  |  Pravin Gor­Dhan  |  Gwede ­Mantashe  |  Tito Mboweni  |  André De Ruyter  |  Krag  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Groenkrag  |  Ipp  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Landbou  |  Beurtkrag  |  Staatsondernemings  |  Boere  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.